Die afgelope dekade hoor ons kort-kort in kerklike vergaderings dat ʼn gereformeerde kerk gedurig moet reformeer. Dit is nie dat ons voorgangers dit nie besef het nie, want hierdie uitspraak geld al sedert die dae van die Reformasie. Die gevaar bestaan egter dat daar, onder die dekmantel van semper reformande, vreemde opvattings op die kerk afgelaai word. Die instrumente wat deur kerklike owerhede hiervoor ingespan word, is onder meer, konsensusbesluitneming, alternatiewe hermeneutiese sleutels, ʼn nuwe plek vir die sogenaamde antieke belydenisskrifte, verdagmakery met betrekking tot fundamentalisme, ʼn nuwe ortodoksie en ʼn oordrewe sin vir luister na mekaar. 

1. Konsensusbesluitneming.

Met konsensusbesluitneming is daar niks fout nie; behalwe as dit “unanimiteit” beteken (unus=een+animus=denke waarby gevoel en wilbetrokke is en jy “gedwing” word om jouself, na herhaalde gebede, geheel en al oor te gee aan die meerderheidsbesluit, totdat almal eenders dink, voel en reageer); en behalwe wanneer konsensusbesluitneming gebruik word om voorafbeplande uitkomste van vergaderings te fasiliteer (manipuleer), sodat vergadering moet voel dat hulle die besluite geneem het, al is dit nie die geval nie.

Wettisisme manifesteer dikwels as so ʼn drukmeganisme onder die voorwendsel van unanimiteit, of te wel eenstemmigheid. In “unanimity” geld die reël dat “believers are expected to come to God in similar ways, to have similar experiences with God, and to use excepted phrases in describing those experiences” (Taylor 1986:35 The myth of certainty; the reflective Christian and the risk of commitment). ʼn Lid van ʼn vergadering word selfs teruggestuur om te gaan bid, totdat hy ook een of ander tyd soos die res voel, of homself onttrek. ʼn Persoon wat onttrek loop natuurlik die risiko om as wêrelds of onwedergebore beskou te word. Die bedreiging van groepseenheid word dus ten alle koste deur unanimiteit vermy.

Waar daar ʼn legalistiese outoritêre gees in vergaderings of ondersoeke heers, veroorsaak elke vraag wat gestel word ʼn mini-krisis. Verskille en krisisse, wat normaalweg ʼn heilsame uitwerking sou hê, indien dit volgens gereformeerde kerkordelike prosedures deurgewerk word, bestaan later nie meer nie. Dit word eenvoudig nie toegelaat nie, want dit bring, al is dit net momenteel, die moontlikheid na vore dat die sisteem krake na buite vertoon.

Unanimiteit in ʼn kerk se bestuurstelsel, is ook die rede waarom kerklike tug, en veral leertug, nie toegepas sal word nie, want tug veroorsaak rimpels wat eenparigheid bedreig. Dit geld veral vir kerke wat sit met spoke van die verlede wat pla, en wat spanning en verdeeldheid veroorsaak het. Indien daar gekies moet word tussen die waarheid en unanimiteit word laasgenoemde gekies.

ʼn Kerklike vergadering sal dus besluite neem oor sensitiewe sake sonder behoorlike kommissieverslae en debatvoering, omdat behoorlike debatvoering voorafbepaalde uitkomste moeilik maak en selfs uitkanselleer. ʼn Ysterhand vanaf die voorsitterstoel is natuurlik nodig om jong perde in toom te hou en oortuigende sprekers se spreekbeurte tot die minimum te beperk. So ʼn stelsel herinner aan die voor-reformatoriese fase van die kerk.

ʼn Mens kan die kontemporêre spiritualiteit in sommige Gereformeerde kerkvergaderings gewis ʼn Konsensus-spiritualiteit noem, waar tafelgesprekke en tafelmonitors ʼn deurslaggewende rol speel om die proses en die uitkoms te manipuleer en te stoomroller. Dit word puik gedoen,sodat die meerderheid sinodegangers voel dat hulle ʼnsê het in die besluitnemingsproses.

2. Alternatiewe hermeneutiese sleutels.

Die Skrifbeskouing dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit slegs woorde van God bevat wanneer dit as sodanig gelowig aanvaar word, beteken dat die mens die handelende subjek is wat God se Woord,deur geloof, tot lewe roep. Hier is God ondergeskik aan die mens wat bepaal of Hy ʼn spreekbeurt het of nie. Wanneer die mens nie sy samewerking gee nie, word God tot stilte gedwing.

Hiermee saam gaan dit ook oor allerlei hermeneutiese sleutels waarmee die mens God se boodskap kan manipuleer as hy wil. Histories is daar die volgende bekende sleutels:

• Allegoriese hermeneutiek (pseudo-ooreenkomste – Dawid se 5 klippies is liefde, goedheid, getrouheid ens. Die olie in die lampe van die 10 meisies is die Heilige Gees)
• Kerklike outoriteit as hermeneutiese sleutel (die kerk sê vir die teks wat om te sê en laat die Skrif in sy breedste raamwerk nie toe om sy eie ortopraksie te bepaal nie – aflaatstelsel in die 16de eeu, Nazi-teologie en die meeste aspekte van die Apartheidsteologie in die 20ste eeu).
• Die Skrif as sy eie kriteria in Hermeneutiek (Skrifgedeeltes verklaar ander Skrifgedeeltes – Reformatoriese standpunt).
• Schleiermacher (1768-1834) se psigologiese/ filosofiese hermeneutiese sleutel (grammatika plus kontemporêre psigologie – Hieruit spruit voort ʼn teologie soos liberale teologie, feministiese teologie, post-moderne teologie en andere. Hierdie sleutel is die afgelope dekade gebruik om sommige Gereformeerde kerke se etiek, veral die etiek rondom seks, in lyn te bring met vandag se oortuigings in die samelewing, en nie in lyn met die breë boodskap van die Skrif nie.
• Karl Barth se hermeneutiek van openbaring (die teks openbaar self sy boodskap aan elke oplettende en gehoorsame leser – ʼn stelsel waarin die mens ook neig om subjek van die openbaring te wees).

3. ʼn Nuwe plek vir ons sogenaamde antieke belydenisskrifte.

Wanneer vreemde hermeneutiese sleutels gebruik word, kyk die kerk desnoods ook met vreemde, nie-gereformeerde oë, na sy belydenisskrifte. Vir die Reformasie was die belydenisskrifte nooit deel van die Kanon nie. Hulle is as norma normata ondergeskik aan die enigste norma normans, die onfeilbare Woord van God. Die belydenisskrifte het kerklike gesag en nét die Bybel, Goddelike gesag. Maar net soos wat die Bybel ʼn skopus en periferie het, het die belydenisskrifte dit ook. Die probleem is dat hierdie onderskeid nie gehandhaaf word nie. Daarom sal artikel 36 van die NGB oor die taak van die Christelike owerheid van die tafel afgehaal word en sommer daarmee saam ook die maagdelike geboorte en die fisiek historiese opstanding van Jesus Christus uit die dood. Daarmee saam word dan verklaar dat die belydenisskrifte wel wonderlik is, maar soos antieke meubels; eintlik nie meer geskik vir hedendaagse gebruik nie.

4. Verdagmakery met betrekking tot fundamentalisme in die kerk.

Dit is die afgelope dekade opvallend dat leraars wat hulleself openlik by die skopus van die Skrif en die skopus van die belydenisskrifte skaar, fundamentaliste genoem word. Vra jy vir ʼn liberalis watter dominees in die kerk fundamentaliste is, en waarom hy so sê, kan hy jou gewoonlik nie antwoord nie, want om ʼn fundamentalis te wees, moet jy immers aan sekere kriteria voldoen. Die kontemporêre benaming fundamentalis, het daarom dalk te doen met die feit dat liberaliste – en van hulle is daar in die kerkgeskiedenis, en tot vandag toe, baie voorbeelde – nie daarvan hou om liberaliste genoem te word nie. Hulle ervaar dit waarskynlik as ʼn belediging en reageer dan daarop deur diegene wat nie met hulle saamstem nie, fundamentaliste te noem. Miskien moet ons oor hierdie terme rustigheid kry. As die skoen jou pas, trek hom aan en ontspan as jy kan. Indien iemand ʼn fundamentalis genoem word omdat hy glo dat die Skrif die Skrif verklaar en omdat hy Schleiermacher se hermeneutiek verwerp, en omdat hy glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, en omdat hy, saam met die kerk van die eeue, in die maagdelike geboorte en die fisiek, historiese opstanding van Jesus Christus uit die dood, glo, is dit mos ʼn eretitel om ʼn “fundamentalis” genoem te word! Hierdie fundamentalisme het, terloops, niks te make met radikalisme wat die opposisie met swaarde van staal om die lewe wil bring nie. Hierdie fundamentalisme, as jy dit dan so wil noem, het alles te doen met ʼn kerk, wat in gehoorsaamheid aan sy opgestaande Christus, die staalswaard wegsit en die Bybel se Evangelie van verlossing en van liefde, uithaal en “uitlewe”.

5. ʼn Nuwe ongereformeerde ortodoksie.

Ortodoksie en ortopraksie het waarskynlik sy “oorsprong” in Paulus se vermaning aan Timoteus dat hy goed op sy leer en lewe moet let, want daardeur sal hy homself red en ook die wat na hom luister (1 Tim 4:16). Vandag dui ortopraksie op die beoefening van dinge wat werk in die kerk, ongeag watter kerk en ongeag of die teologie daaragter gereformeerd of nie gereformeerd is nie. Die probleem hiermee is dat dit bloot gaan om die unieke behoeftebevrediging van vandag se mens deur die dinge wat werk. Die gevolg is ʼn nuwe soort verwyderde ortodoksie. Ortodoksie en ortopraksie is soos twee vlerke van ʼn voël; as jy met die een vlerk peuter is die ander een ook nie in staat om die voël langer in die lug te hou nie. Dan kry jy in gereformeerde kringe dinge soos sterk charismatiese strominge, vreemde sienings oor die doop en doopvieringe; en duisende kerse wat in geboue moet brand om die regte goddelike atmosfeer te skep vir ware aanbidding. Dit kom natuurlik daarvan dat ons in die kerk die Evangelie so abstrak gemaak het. Ons moet maar hand in eie boesem steek! Ons moenie die Evangelie abstrak maak en net in die teorieë van naasteliefde verval nie, want dít veroorsaak al die “vreemde praksis” in die kerk en samelewing. Ortodoksie en ortopraksie moet albei aan die breë boodskap van die hele Bybel gekoppel bly, en moenie losgemaak word van die oorspronklike verhaal en betekenis van die Skrif nie. Waar dít gebeur land ons nie net in vreemde strominge nie, maar uiteindelik ook buite die stroom van die Christendom.

6. Buite die stroom van die Christendom

Die kerk van die eeue het sekere lyne wat hy trek waarbinne hy ʼn groepering “kerk” noem. Wie buite hierdie lyne val word, deur die eeue van die kerkgeskiedenis heen, nie “kerk” nie, maar “kultus” genoem. Christelike kultusse is byvoorbeeld groeperinge wat die Drie-Eenheid, of die Godheid van Christus, of die Godheid van die Heilige Gees, verwerp.

Wie die skopus van die Skrif aantas haal homself leerstellig uit die kerk van Christus uit. Matteus 16:13-18 gee ʼn voorbeeld van ʼn skopus-belydenis waarsonder jy nie deel van Christus se kerk op aarde kan wees nie. Die vraag is dus of ons nog van kerklidmate kan praat wanneer mense die skopuswaarhede van die Skrif ontken. Dieselfde vraag word met betrekking tot sinkretisme gevra, en die antwoord is “nee, hulle is nie kerklidmate nie, hulle het ʼn alternatiewe godsdiens wat hulle beoefen”. Metafories beteken dit dat iemand deur ʼn rivier swem en anderkant uitklim; die rivier sit nog aan hom vas, want hy is nog rivier-nat, maar hy is nie meer in die rivier nie. Diesulkes mag nog baie van die Christendom aan hulle hê, maar hulle is nie meer in die liggaam (kerk) van Christus op aarde nie.

7. Die luisterende kerk en gereformeerdheid.

So ʼn klompie jare gelede het die gedagte van ʼn luisterseisoen in sommige gereformeerde kringe sterk na vore getree. Dis ʼn mooi gedagte wat verdraagsaamheid en nederigheid as onderbou het. Dit het so rondom 2004-05 sy verskyning gemaak, midde in die kookpot van teologiese liberalisme. Onder hierdie mooi rok steek daar egter ʼn onderrok uit naamlik dat daar nie meer in die kerk van absolute waarhede gepraat moet word nie. Teoloë wat die bestaan van die duiwel ontken, die maagdelike geboorte van Christus, die fisiek historiese opstanding uit die dood moet verdra word, en nie onder leertug geplaas word nie, want ons beskik nie (meer) oor die volle en absolute waarheid nie. Die waarheid lê (van nou af) iewers tussen ons almal en wag om ontdek te word. Dis nou die luisterseisoen! Die vraag is natuurlik na wie ons luister en of almal se meningsgelyke gewig dra. Word daar ook nog geluister na die kerk van die eeue se belydenis, of is daardie belydenis nie meer ons gemeenskaplike samebindende belydenis nie? Is ons in die proses nou besig om onsself stelselmatig van die kerk van die eeue los te maak? Hoekom?

8. Die ontluikende kerk

Kerkvervreemding is die gevolg van swak gereformeerde ortodoksie en ʼn ewe swak gereformeerde ortopraksie. Ons moet in die gereformeerde tradisie dus altyd hand in eie boesem steek. Ons swakhede het kerklosheid en uiteindelik ook kerkloosheid tot gevolg. Mense is nog gelowig maar nie meer kerklik nie. Die ontluikende kerk het ten doel om diesulkes weer tot aanbidding te organiseer, maar nie meer binne bestaande kerklike strukture nie. Eredienste word byvoorbeeld sommer iewers in ʼn winkelsentrum en selfs in ʼn “pub” gehou as dit kan. Dis ʼn gawe idee. Jesus sou waarskynlik daaraan deel gehad het, as Hy nou, sigbaar, op aarde was. Sy prediking was meer in informele plekke as in die tempel en in sinagoges. Opkomende kerke moet egter nie losgemaak word van bestaande kerke, en sodoende net verder bydra tot die versnippering van die liggaam van Christus nie. Opkomende gemeentes moet dus ʼn evangelisasie arm wees van bestaande gemeentes en wel op só ʼn wyse dat hierdie “kerke” se werk met volmag (geldsake inkluis) gedelegeer word. Dit klink vir my ʼn gereformeerde siening te wees.

Gerhard Mahne

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *