leerstellings

Onlangs het die kwessie betreffende die vorming van leerstellings weer my pad gekruis. Dit het my opnuut laat besef dat daar is wyd uiteenlopende sienings hieroor. Die vraag op die tafel is of dit geldig is vir ʼn kerk of geloofsgroepering om leerstellings te vorm en hulle dan daarvolgens te laat rig. Ten diepste gaan dit natuurlik oor die vraag na die rol van die Skrif in die gelowige en die kerk se lewe.

Dit is vir my duidelik dat daar twee uiterstes is waarmee rekening gehou moet word. Aan die een kant is daar die streng leerstellige benadering. Hiervolgens is dit ondenkbaar dat enigiets sal gebeur as daar nie een of ander vorm van doktrine aan die basis daarvan lê nie. Doktrine is koning en enigiets wat gebeur sonder ʼn vorm van leerstellige bevestiging word summier van die hand gewys as sogenaamd “onbybels”.

Die ander uiterste is natuurlik die absolute teenoorgestelde hiervan. ʼn Mens wil amper sê alles wat ruik na leerstellings word verwerp as “onbybels”. Hierdie benadering maak natuurlik baie staat op konsepte soos die “leiding van die Heilige Gees”, of die “Bybel is ons enigste maatstaf”, en ook “ons is vrygemaak van die letter”.

Die probleem is alreeds duidelik. Almal beskuldig mekaar as onbybels. Om so ‘n beskuldiging in te bring, veronderstel natuurlik dat jy wat die klag lê, ʼn verantwoordelike en Bybels korrekte siening het oor hierdie saak. Dit is dan wat ek in hierdie artikel wil probeer doen, naamlik ʼn poging om ʼn Bybels-gefundeerde siening hieroor te ondersoek. Daarom wil ek eerstens kyk hoe hanteer die Skrif “leerstellings”, maar voor ek daarby kom, moet ek net eers ʼn voorlopige definisie probeer gee van wat “dogma” of dan “leerstelling” is. Die rede is dat ons ten minste van ʼn gedeelde platform af kan wegspring in ons gesels hieroor.

Definisie

Die volgende definisie is byvoorbeeld ʼn baie goeie samevatting van dogma:

“A principle or set of principles laid down by an authority as incontrovertibly true”1

Hierby kan ons verder ook aansluit:

“An authoritative principle, belief, or statement of ideas or opinion, especially one considered to be absolutely true.”2

Dit kom natuurlik van die Griekse woord dogma wat sou inhou jou oortuigings en opinies rondom ʼn spesifieke saak.

Hiervolgens is leerstellings vaste beginsels wat in sekere kringe dus ʼn gesaghebbende posisie inneem. Die voorveronderstelling is dat sulke gesaghebbendheid berus op die oortuiging dat dit wat die leerstelling(s) verteenwoordig, die waarheid is. Dit opsig self moet enigeen maan tot versigtigheid om in die eerste plek leerstellings te vorm wat nie die waarheid verteenwoordig nie en tweedens valse leerstellings as gesaghebbend te beskou. Om leerstellings te vorm behoort in alle geval met baie versigtigheid, deeglikheid en integriteit benader te word (of ten minste is dit wat verwag word).

Met dit dan as ʼn wegspringplek, kom ons kyk na die Ou Testament.

Leerstellings in die Ou Testament

ʼn Wanpersepsie wat ons het van die Ou Testament is dat dit ʼn klomp historiese inligting gee wat moeilik verstaanbaar is, en selfs met tye vervelig (dink byvoorbeeld aan die geslagsregisters). Die aard van die Ou Testament is ver hiervan. Inteendeel, dit is so ongelooflik ryk aan “leerstellings” dat ʼn mens later amper oorweldig voel daardeur. Ons moet een ding besef. Die leerstellings soos ons dit in die Skrif kry is nie gevorm in klaskamers en biblioteke en seminare nie. Dit is gevorm in antwoord op lewensvrae wat hulself op die mens af geforseer het.

ʼn Verdere belangrike punt om te onthou is dat die Bybel God se Openbaring van Homself en sy meesterplan met die heelal is, en die Ou Testament vorm ʼn integrale deel van hierdie self-openbaring van God. ʼn Mens sou met reg kon sê dat God op elke bladsy van die Bybel iets van Homself bekendmaak en Hy doen dit op so ʼn wyse dat daar ʼn wonderlike eenheid tussen al die boeke van die Bybel is.

Dit is ook ʼn gegewe dat die Ou Testament ʼn ander agtergrond en ontwikkelingsgeskiedenis het as wat die Nuwe Testament het, en daarby ook ʼn baie langer ontstaansgeskiedenis. Tog is dit duidelik dat God se volk orals vrae vra oor hulle God, hulle eie geloof en toekoms, hulle plek tussen die ander nasies, en die pad wat hulle moet loop in verhouding met hierdie God. Dit is dan in hierdie proses dat die Ou Testament krities belangrike vrae vra en antwoorde verskaf oor hulle geloof en lewe.

Die openingswoorde van die Ou Testament is ongelooflik swaar gelaai met wat die volk glo oor die skepping en die God wat dit gemaak het.3 Uit hierdie eerste vers, leer ons van ʼn God – sonder aanduiding van begin of einde en sonder die noodsaaklikheid om te verduidelik waar Hy vandaan kom – wat die hemel en die aarde gemaak het. ʼn Kykie na die oorspronklike taal waarin Genesis geskrywe is, openbaar alreeds iets van die Drie-Eenheid4 en die skepping uit niks. Hier het ons dus alreeds in die eerste vers van die Bybel in embrio die “Leer van die Skepping” (Skeppingsleer) asook die “Leer oor God” (Godsleer). Genesis 1 brei verder uit op beide en verduidelik onder andere hoekom die mens bestaan. Dus het ons hier weer die begin van die “Leer oor die Mens”.

ʼn Moeilike vraag wat beantwoord moes word, is dié van die oorsprong van die kwaad. Dit word beantwoord in Genesis 3, waar ons ʼn hele aantal belangrike waarhede raak lees. Ons ontmoet ʼn slang wat praat (“Leer oor die Engele”, “Leer oor die Demone”). Hy mislei Eva (die oorsprong van “Dwaalleer”, met ander woorde lering wat die waarheid verdraai). Ons sien hier ʼn Regverdige God optree (“Leer oor God se Regverdigheid”) wat die ongehoorsaamheid (“Leer oor die Sonde”) straf met die dood (“Leer oor die Ewige Oordeel”). Tog gee God ook ʼn belofte van ʼn Verlosser (“Leer oor die Verlossing”). In die volgende hoofstuk word ons vertel van die uitwerking van die sonde op die mensdom (“Leer van die Verdorwe Menslike Natuur”).

Waarop dit dus neerkom is dat die historiese inligting op so ʼn wyse verpak is dat dit ʼn hele klomp leerstellige waarhede op die tafel plaas. Natuurlik is nie een van hierdie leerstellings hier genoem volledig uitgewerk nie, omdat dit nie die volle openbaring van God was nie. In Sy wysheid het Hy besluit dat daar 66 boeke sal wees wat sy volledige openbaring sou bevat. Tog, was hierdie die begin van sogenaamde “dogmas”, gesaghebbende waarhede, waar rondom die volk hulle lewens sou inrig.

Spring ons verder na die verhaal van Josef, maak hy ʼn geweldige uitspraak in Genesis 45:5-8 oor die Soewereiniteit van God:

“Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.  Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.
Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ʼn oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ʼn groot verlossing.  Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ʼn raadsman van Farao gemaak en ʼn gebieder oor sy hele huis en ʼn regeerder in die hele Egipteland.”

Josef moes worstel met die vraag waarom alles met hom gebeur het, en in sy antwoord leer ons van God se soewereine werking te midde van swaarkry en leiding. Sien ook Genesis 50:20 waar Josef dieselfde sê.

In Eksodus 15 lees ons daardie aangrypende lied van Moses oor God se karakter, sy almag, sy reddingswerk, ens. Ons kan nie anders as om te besef dat Moses geweet het wie God is nie, en daarom kon hy die volk leer, al was dit in die vorm van ʼn lied. Wanneer God dan ook die volk by die berg ontmoet volgens Eksodus 20, openbaar Hy ʼn geweldige klomp waarhede wat tot vandag toe nog geldig is vir ons geestelike lewe voor Hom.5 Kyk ons maar net na die eerste 2 in die konteks van Eksodus, besef ons dat ons hier leer van die unieke God wat enig in sy soort is. Hy deel ook sy troon met geen ander wese wat homself wil verhef tot godheid nie – soos duidelik uit die tien plae na vore kom. Daarom, wanneer die volk vir hulle ʼn goue kalf maak, moet hulle op ʼn baie harde manier leer dat God se openbaring van Homself is waar en Hy laat dit nie verdraai deur mense se pogings nie.6 Alreeds het ons ʼn voller openbaring van God, en begin die “Leer oor God” meer inhoud en vleis kry.

Kom ons beweeg na ʼn kort en kragtige uitspraak oor God in Deuteronomium 6:4:

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ʼn enige HERE.”

Hier word ons vertel van God se verbondshart (sy naam Jahwe, “die HERE”) wat Homself verbind aan sy volk en dat daar nie ʼn ander God is soos Hy nie. Hy is Uniek, Enig en kan nie vasgevang word nie. Koppel hierdie uitspraak met die “Leer oor God” in Genesis 1, het jy reeds ʼn uitbreiding van daardie leer en begin die vorming van leerstellings uitbrei om verdere openbaringe van God te akkommodeer. Jare later trek die Profeet Jesaja die “Leer oor die Skepping” en die “Leer oor God” bymekaar as hy in Jesaja 40:12-26 God verkondig as die Unieke God wat alles skep. Hy verdiep egter elkeen van hierdie leerstellings deur te verwys na God as die onderhouer van sy Skepping wat nie te vergelyk is met die afgode van die nasies nie. Dus, bou die profeet op die leerstellings wat aan hom oorgelewer is, en onder die inspirasie van God word daardie leerstellings verdiep.

Die sogenaamde Wysheidsliteratuur van die Ou Testament bevat natuurlik ʼn enorme rykdom van leerstellige waarhede. Lees maar net die Psalms (kyk bv. Psalm 44 oor God en Lyding, Psalm 139 oor God se eienskappe, Psalm 119 oor God se Woord).

Spasie laat ons nie toe om op elkeen van die boeke van die Ou Testament te fokus nie. Dit is wel duidelik dat die Ou Testament, as geheel gelees, ʼn ryk versameling van leerstellings bevat wat gesaghebbend was in die lewe van die volk en daarom as maatstaf gedien het. Die Nuwe Testament bou hierop voort.

Leerstellings in die Nuwe Testament

Die aard van die Nuwe Testamentiese dokumente is aansienlik anders as dié van die Ou Testament. Waar ons in die Oue ʼn massiewe stuk geskiedskrywing het, is daar maar slegs vyf boeke7 in die Nuwe wat as geskiedskrywing hanteer kan word. Behalwe dan ook vir die boek Openbaring8, is die res briewe aan kerke en individue. Hierdie briewe fokus dan ook sterk op die vaslê van leerstellige waarhede in die midde van die gemeentelewe. Dit sou dien as teenvoeter vir die dwaalleer wat konstant teen die waarheid sou opstaan.

Hoe het leerstellings dan grondslag gevind in die lewe van die kerk van die Nuwe Testament? Dit is duidelik uit die Evangelies dat die fokus die lewe en leer van Christus was. Alhoewel uit verskillende hoeke geskrywe, belig dit tog duidelik dat Jesus nie sommer maar net ʼn persoon was wat baie van Homself gedink het nie. Hy was geag as ʼn gesaghebbende leraar. Telkens lees ons hoe verstom die skares was oor die gesag waarmee Hy onderrig het. In die lig van ons vraagstelling is dit belangrik om in ag te neem dat Jesus, wat betref geïnspireerde Woord van God, slegs die Ou Testament gehad het om mee te werk, en dit het Hy met oorgawe gedoen. Kyk byvoorbeeld na die Bergpredikasie in Mattheus 5-7. Hier is ʼn duidelike bewys van sy gebruik van die Ou Testament om sy leerstellings oor te dra. Hy gebruik oorgelewerde leringe, of dan dogmas, vanuit die Ou Testament om bestaande skeefgetrekte opinies te verbreek en daardie leerstellings te verdiep. Die frase “julle het gehoor … maar Ek sê vir julle” doem gereeld op in hierdie gedeelte. Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nie elke keer as Hy ʼn vraag gevra word, by Genesis 1 tot en met Maleagi (dis nou volgens ons volgorde) deurgaan om te antwoord nie. Hy het ʼn stuk leerstellige kennis voorveronderstel – dit was mos immers God se volk wat die Ou Testament geken het – en daarop voortgebou. As die Sadduseërs Hom byvoorbeeld om die bos wil lei met ʼn strikvraag oor die huwelik,9 dan begin Hy nie weer in Genesis 1 en hardloop deur die Ou Testament om sy punt te leer nie. Hy weet dit gaan oor die “Leer oor die Huwelik”, die “Leer oor die Geesteswêreld” en die “Leer oor die Ewige Lewe” as die Sadduseërs met Hom in gesprek gaan. Hy antwoord dus telkens vanuit die bestaande leerstellige basis en bou daarop voort.

Paulus het ʼn interessante benadering oor leerstellings. Talle van sy briewe volg ʼn patroon waar hy eers die “teologie” neerlê en dan die toepassing daarvan. Maar kyk wat skrywe hy vir die gelowiges in Rome:

“Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is” (Romeine 6:17).

Hy maak hier melding van ʼn “leer wat aan julle oorgelewer is”.10 Aan Timoteus skrywe hy:

“As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie …” (1 Timoteus 6:3).

Hier noem hy dit “die leer wat volgens die godsaligheid is”.11 Hy sê in der waarheid dat leerstellings in die kerk was wat oorgelewer is, en hierdie leerstellings was volgens gebaseer op die Evangeliewaarheid. In 1 Korintiërs 15:3-8 gee hy vir ons ʼn idee wat die kern van hierdie leerstellings was wat hy oorgelewer het:

“Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;  en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;  en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.  Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.  Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;  en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”

Duidelik ʼn hele klompie leerstellings waaraan ons met ons hele lewe behoort vas te hou. Aan Timoteus skrywe hy weer:

“Dit is ʼn betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (1 Timoteus 1:15).

Let op die woorde “betroubaar” en “werd om ten volle aangeneem te word”. Dit wil vir my voorkom asof Paulus hierdie waarheid as gesaghebbend beskou het vir die normale Christelike lewe, en die inhoud is niks anders nie as die “Leer oor die Verlossing”, “Leer oor die Versoening”.

In 1 Timoteus 3:1 herhaal hy die gedagte van ʼn “betroubare woord” as hy begin oor die kwalifikasies en rol van die ouderling. Hierna lê hy die “Leer van die Kerkregering” neer in geen onduidelik terme nie. 1 Timoteus 4:9 gebruik weereens hierdie begrip in die konteks van dwaalleer en Timoteus word vermaan om vas te staan in wat Hy geleer is en om dit te beveel en te leer in die gemeente.

Judas sluit in ʼn sekere sin aan by Paulus se gedagte oor ʼn “leer wat oorgelewer is” deur die gelowiges te vermaan om te stry vir “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Hy verwys nie hier na saligmakende geloof nie, maar van die stel leerstellings wat oorgelewer is deur die apostels en profete in die vorming van die Nuwe Testamentiese kerk. Hy wil hê dat die kerk hierdie leerstellings sal koester en bewaar, selfs tot die punt om daarvoor te stry.

Die Hebreërskrywer het weer ʼn teregwysende benadering. Hy berispe die ontvangers dat hulle nie gereed is om swaarder leerstellings te ontvang nie, omdat hulle vasgehaak het by elementêre leerstellings. In sy eie woorde oor hulle onvermoë om dieper lering te ontvang aangaande Melgisedek:

“waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ʼn mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ʼn kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” (Hebreër 5:11-14)

Dan gaan hy oor na hoofstuk 6 waar hy sy hoop uitspreek dat hulle verby die baba stadium sal groei om volwasse lering te kan ontvang:

“Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel” (Hebreërs 6:1-2).

Let op die versameling leerstellings wat hy noem wat behoort tot die “begin van die prediking aangaande Christus”, ook gesien as die “fondament”. Dit is duidelik dat die kerk in sy tyd al ʼn redelike uitgebreide idee oor elkeen van hierdie leerstellings gehad het.

ʼn Gemeente waarna ons moet verwys is die gemeente in Efese. Die Here Jesus skrywe aan hulle ʼn brief in Openbaring 2. Nou moet ons onthou dat hierdie gemeente is deur Paulus gevestig en bedien. Nadat hy hulle vir ongeveer 3 jaar bedien het, het hy die ouderlinge bymekaar geroep en vermaan om na die kudde om te sien, aangesien wolwe hulle gaan probeer verskeur (Handelinge 20). Hierdie woorde van hom het waar geword en hy stuur Timoteus om hulle te bedien in tye van dwalinge wat hulle wou lamlê. In Openbaring kommunikeer Jesus met hulle en bevestig aan hulle hul getrouheid om leerstellig suiwer te wees:

“Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het” (Openbaring 2:2).

Hulle kon nie anders op die proef stel as deur dwaling te meet aan ware leerstellings nie. Sou hulle nie leerstellings gehad het waarmee hulle kon meet en pas nie, was die prentjie dalk donkerder gewees vir hulle.

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat Ou sowel as Nuwe Testament ʼn hoë mate van leerstellige korrektheid en suiwerheid voorstaan, al verskil die onderskeie boeke so radikaal van mekaar in inhoud en agtergrond. Die volk van God het dit telkens nodig geag om die leerstellings vas te lê en God het dit nodig geag om die leerstellings uit te brei deur sy volle openbaring (lees gerus wat Paulus oor God se progressiewe openbaring te sê het in Efesiërs 3).

Wat wel verder duidelik na vore kom wanneer so na hierdie onderwerp gekyk word, is dat die leerstellings NOOIT in die lug bly hang het as akademiese, of dooie inligting nie. Ver daarvan. Daar is telkens erns gemaak daarmee dat dogma moet lewe word. Dit wat jy weet, moet jou lewe begin bepaal. Dit was egter nooit andersom dat die lewe die dogma bepaal het nie. Die lewe skep vrae, leerstellings bied antwoorde en riglyne. Dogma, of dan leerstellings, was altyd eerste en het die basis gelê vir ʼn gesonde wandel met die Verlosser. Daarom het die Skrif ʼn afsku in dooie dogma, want dit is nie uit die Gees van God gebore nie, en doen niks anders as om die vlees te voed en die dood voort te bring nie.

Wat van jou eie geloofsoortuigings?

Dit was dan die Ou en Nuwe Testament. Daar sien ons leerstellings wat gevorm is en wat lewe gebring en gerig het. Diegene wat egter leerstellings verwerp as mensgemaak, hou nie in die oog dat hulle self ʼn stel leerstellings handhaaf wat óf op die Skrif gebaseer is óf nie. Kom ons bedink hierdie kwessie vanuit die vraag “wat glo jy aangaande …” Hierdie vraag kan aangevul word met enige hoeveelheid kwessies, byvoorbeeld “die Skepping”, “God”, “Sonde”, “Versoening”, “die Hemel”, ensovoorts. Indien enigiemand uit die bloute enige een van hierdie vrae aan jou sou vra, is jy hom ʼn antwoord verskuldig. Om die eerlike waarheid te sê, het ek nog niemand ontmoet wat elkeen van hierdie vrae beantwoord deur by Genesis 1:1 te begin en dan by Openbaring 22:21 te eindig nie. Dit is net eenvoudig onlogies en ondenkbaar.

Instinktief filter jy gegewens uit verskeie bronne en plekke in die Skrif (en ook elders) om enige van hierdie vrae te beantwoord. In praktyk is jy besig om leerstellings (wat óf oorgelewer is óf deur jouself gevorm is) te gebruik in jou poging om sinvol te beantwoord. Hierdie is ʼn natuurlike proses waar inligting wat oor tyd vasgelê is, geïntegreerd gebruik word. Dit is dus ʼn mite dat niemand leerstellings het waarmee hy sy opinies vorm nie.

Wanneer iemand byvoorbeeld vir jou sou vra “waarom glo jy nie in aborsie nie”, of “waarom dink jy homoseksualiteit is sonde”, dan is die proses eenvoudig dieselfde. Uit versamelde kennis en opinies, gemeng met eie opinie, antwoord jy so ʼn vraag – maak nie saak of dit reg of verkeerd is nie. Indien jy hierdie vrae eerlik antwoord, sal jou antwoorde niks anders wees as jou oortuigings daarvan nie, met ander woorde gesaghebbende waarhede wat jy vir jouself neem waarvolgens jy jou lewe inrig. Dus is ons definisie van ʼn “leerstelling” hierbo steeds in die kol, naamlik dat dit gesaghebbende beginsels in jou lewe is wat vir jou as waarheid dien.

Kom ons gebruik nog ʼn voorbeeld. Iemand vra jou wat jy glo. Geen mens in sy regdenkende verstand antwoord deur te sê ons gaan nou saamlees van Genesis 1 tot Openbaring 22 nie. Nee, die normale proses is om kort en bondig die hoofpunte van dit wat jy glo te noem en daaroor verder te gesels so die geleentheid daar wees. Maar, kyk dieper na hierdie vraag. Die vraag is eintlik wat is jou leerstellings oor jou geloof en wat jy in der waarheid doen as jy hom antwoord, is om leerstellings te verduidelik.

Leerstellings in hierdie sin is dus ʼn natuurlike proses waar die mens versamelde kennis en inligting neem en op een of ander manier integreer in sy lewe. Die gedagte dus dat dit onnatuurlik is om leerstellings te vorm, is teen die natuur van die mens sowel as teen die duidelike bewyse van die Skrif.

Waarom het die Kerk dan leerstellings?

Dit bring ons by die vraag van die kerk en leerstellings. Hoekom het die kerk leerstellings? Wel, om mee te begin, vir dieselfde rede waarom jy as individu nodig het om jou te bewapen met verskillende leerstellings, het die kerk dit ook nodig. Terwyl dit ʼn natuurlike is vir die mens, kan ons tog nie verwag dat dit ʼn onnatuurlike sal wees in die kerk nie. Die kerk is immers ʼn versameling van mense wat almal iewers kennis versamel het.

Histories was daar natuurlik verskeie redes waarom dit nodig was om amptelike leerstellings te vorm. Ten eerste was daar die opleiding van nuwe bekeerlinge in hierdie nuwe geloof waartoe hulle hulself bekeer het. Neem in ag dat die eerste gemeentes nie ʼn 1933/1953 vertaling of ʼn King James Version of watter ander vertaling gehad het nie. Hulle het die oorleweringe van die apostels en profete gehad, ondersteun deur die Ou Testament (Septuagint vertaling) en die klompie geskrifte wat nog nie amptelik erken was as die Nuwe Testament nie. In hierdie konteks was leerstellings ongelooflik belangrik om die nuwe gelowiges op te voed in hulle geloof, met ander woorde dissipelmaking. Elkeen kon nie met ʼn Bybel in die hand wegstap om van Genesis 1 tot Openbaring 22 te gaan lees en dan uitmaak wat hy nou moet glo nie. Prakties was dit net eenvoudig onmoontlik en daarom het daar met verloop van tyd geskrifte ontwikkel soos die Ou Romeinse Simbool, die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Didaché, ensovoorts. Alles geskrifte wat daarop gemik was om nuwe gelowiges op te lei sodat hulle gedoop kon word en as lede van die kerk erken kon word.

Tweedens was daar natuurlik ook die kwessie van onderskeid. Die kerk moes homself onderskei van die heidenwêreld, en die metode was eenvoudig om ʼn geloofstelsel daar te stel sodat elkeen kon weet wat dit is om gelowige te wees en aan die kerk te behoort in teenstelling met die wêreld waaruit hulle hul bekeer het. Leefwyse as maatstaf was nie genoeg nie, aangesien nie alle ongelowiges sulke korrupte lewens gelei het nie (en ongelukkig soms andersom ook). Die enigste onderskeid sou dan wees wat hulle glo en hoe daardie geloofstelsel hulle lewenswyse raak.

ʼn Derde rede is natuurlik die weerlegging van dwaalleer. Dit is slegs moontlik om dwaalleer te weerlê indien jy ʼn stel leerstellings het waarteen gemeet kan word. ʼn Goeie voorbeeld is die stryd tussen Arius (Arianisme) en die Kerk, soos veral verteenwoordig deur Athanasius, oor die twee nature van Christus. Dit was duidelik dat die godheid van Christus op die spel was, en was dit nie vir Athanasius se insigte in die “Leer van die Twee Nature van Christus nie”, sou ons vandag tien-teen-een almal Jehova Getuies gewees het. ʼn Ander voorbeeld is dié van die stryd tussen Pelagius (Pelagianisme) en Augustinus oor die verdorwenheid van die mens. In die tyd van die Reformasie was dit veral die kwessies soos verwoord in die 5 Solas wat in die kollig was. ʼn Eeu later sou die kerk in Nederland ʼn hewige stryd hê met die Remonstrante, wat die Sinode van Dordt in 1618/1619 tot gevolg gehad het. So kan ons een na die ander stryd teen dwaling noem waar die kerk weereens sy posisie van waarheid moes bevestig.

ʼn Verskynsel wat redelik na vore gekom het in die kerk veral in die tyd van die Reformasie is die vorming van Belydenisskrifte. Hierteen kom baie mense in ons tyd in opstand en gooi natuurlik daarmee die baba en die badwater albei by die boonste verdieping van die woonstel uit. Gesien egter in die lig van die aard van leerstellings en die natuurlike proses by die mens om kennis te versamel en logies te groepeer, en gesien in die lig van die redes waarom leerstellings gevorm is, is dit hoegenaamd nie ʼn vreemde verskynsel dat Belydenisskrifte so ʼn belangrike aspek van die kerklike lewe was in hierdie tyd nie. Dit was ʼn tyd van geweldige stryd op kerklike gebied. Aan die een kant was daar die Rooms Katolisisme, wat ʼn hele spul dwalinge opmekaar gestapel het. Aan die ander kant was daar die ontwikkeling van die Arminianisme en Socinianisme, wat geweldige swaar lading op die leerstellige suiwerheid van die kerk geplaas het. Meng hiermee saam ook die rol wat die staat in die kerk gehad het, en jy sit met ʼn hoogs plofbare situasie wat die gesonde voortbestaan van die Kerk van Christus bedreig het. Dus is dit nie vreemd dat daar dus in hierdie tye soveel belydenisse ontwikkel het nie. Bygesê, dit is ook nie slegs kort en bondige belydenisse nie. Sommige van hulle is baie lywig en hanteer baie moeilike kwessies. Vergelyk byvoorbeeld die Heidelbergse Kategismus, of die 39 Artikels met die Apostoliese Geloofsbelydenis, en jy sal vinnig agterkom dat daar ʼn reuse verskil is.

Selfs in ons eie tyd het ons hierdie tendense dat dwaalleer die leerstellige suiwerheid van die kerk bedreig en is dit absoluut noodsaaklik dat die ware kerk nie sal terugdeins om die suiwer leer suiwer te proklameer nie. Kyk byvoorbeeld na die Pous se onlangse uitspraak dat mense wat goed leef, gered kan word, selfs Ateïste.12 Hierdie is ʼn duidelike aanslag op die “Leer van Verlossing / Versoening” en baan die weg vir allerhande goggas om die kerk binne te dring. Hierdie dwaling is alleen te beveg op grond van die ware “Leer van Versoening”.

Gevolgtrekking

My oortuiging hieruit is dat die natuurlike en Godgegewe proses om leerstellings te vorm nie onbybels en daarom boos is nie. Leerstellings is goed en nodig en uiters belangrik vir redes hierbo genoem (en selfs ander wat nier genoem is nie). Om leerstellings doodeenvoudig te verwerp, is in effek om die proses in jou eie menslik natuur te ontken, dood te maak en oneerlik daarmee om te gaan.

Leerstellings mag egter nie in ʼn kokon funksioneer nie. Dit moet neerslag vind in die lewens van diegene wat dit glo en daarby hou. Die letter maak verseker dood en dit is nie die bedoeling van enige leerstelling nie. Hier moet ook onmiddellik bygesê word dat dit nie altyd die leerstelling is wat dood is nie, maar ander faktore mag bydra daartoe om die effek daarvan te weerhou. Ek sien gereeld hoedat leerstellings summier as duiwels afgeskryf word. Een so leerstelling is dié oor die Uitverkiesing. Hierdie is nie die plek om hierdie leer te hanteer nie, maar die waarskuwing staan dat omdat jy nie die Bybel se hantering hiervan deeglik verstaan nie, moet jou juis versigtig maak om dit sommer van die tafel af te vee. ʼn Verantwoordelike benadering is eerder om eerlik met die Skrifgegewens om te gaan en deeglike navorsing te doen. Dit is gevaarlik om summier te sê dit is duiwels, want jy sê in effek dan die duiwel het Efesiërs 1, Romeine 8-11, Eksodus 33, ens. geïnspireer.

Leerstellings gee egter die pas aan vir ʼn gesonde geestelike lewe. Indien ek nie weet wat die impak van die “Leer van die Skepping” op my lewe behoort te hê nie, is die kanse dat ek vir ʼn dwaling soos evolusie sal val. Indien ek nie die Bybelse leer oor man en vrou en seksualiteit verstaan nie, is homoseksualiteit nie ʼn onmoontlikheid vir my nie. Leerstellings dikteer en penetreer lewenswandel en dit is uiters belangrik om hierdie volgorde raak te sien.

Leerstellings moet ontwikkel vanuit die Skrif en moet die waarheid van die Skrif duidelik maak, sonder om biblisisties of allegories (vergeesteliking) met die Skrif om te gaan. Dit roep natuurlik tot verantwoording. Die Bybel leer nie verniet dat die wat wil leer ʼn dubbele oordeel sal ontvang nie. Om God se Woord te neem en in die lig daarvan te onderrig, is nie iets om ligtelik op te neem nie. Dit beteken dus ook dat leerstellings aan die Skrif getoets moet word en nodige regstellings gemaak moet word. Dit is onvermydelik.

Voetnotas

3 “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”

4 Die Hebreeuse term Elohim is die meervoudsvorm van El. Dit kan verstaan word as ‘n aanduiding van die wese waaroor geskrywe word se grootsheid. Hier in Genesis 1 se verdere hantering sien ons die Gees van God en die Woord van God wat almal betrokke is. Genesis 1:26 vind ons ook die woorde “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”. Hier is dit weer Elohim aan die woord.

5 Kyk byvoorbeeld hoedat Paulus die gebod “Eer jou vader en jou moeder …” prakties maak vir die verhouding tussen ouers en kinders in Efesiër 5. Jesus verwys telkens in die bergpredikasie terug na die Tien Gebooie.

6 Eksodus 32. Dit is terloops interessant hoedat meditatiewe gebedspraktyke beelde gebruik in hulle aanbidding. Maak gerus ‘n studie van Lectio Divina en Taizé aanbidding. Daar is altyd ten minste ‘n kers teenwoordig om God se teenwoordigheid te simboliseer.

7 Mattheus, Markus, Lukas, Johannes en Handelinge

8 Openbaring kan tegnies as ʼn Apokaliptiese brief beskou word, volgens Openbaring 1:4.

Mattheus 22:23-32

10 Paulus gebruik die woord didache, wat vertaal kan word met instruksies, doktrine, lering

11 Hier gebruik Paulus didaskalia wat ook verwys na leringe, doktrine, reëls.

12 http://www.huffingtonpost.com/2013/05/22/pope-francis-good-atheists_n_3320757.html?ir=Religion&utm_campaign=052313&utm_medium=email&utm_source=Alert-religion&utm_content=FullStory

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: