Die postmoderne kultuur het ‘n geweldige uitdaging vir die kerk geword. Die realiteit is egter dat dit nie slegs die postmoderne kultuur van ons tyd is nie, maar in elke tydvak het die kerk opnuut sy uitdagings gehad. Daar is dus niks nuuts aan wat in ons tyd gebeur het nie. Selfs toe die eerste kerk uit Jerusalem gedrywe is, was dit reeds ‘n kultuurskok om met die nie-Joodse wêreld konneksie te maak – nou nie slegs as ‘n omgewing om in te woon nie, maar as kerk om die opdrag van Christus uit te leef.

Daar word dikwels gesê die Ontluikende Kerk se aanklagte is baie geldig. Dit mag miskien so wees, maar die kwessies wat aangespreek word, is nie nuut in die bestaan van die Kerk nie. Met al die geskommel en gewoel in die kerk deesdae, is my vraag dan: wanneer is die kerk relevant? 

Ek wil hierdie vraag benader vanuit die rede hoekom die kerk bestaan, want ek reken dat as die kerk getrou is aan sy wese, dan is dit relevant. Hiermee trek ek ‘n kruisie deur die gedagte dat kultuur die kerk se relevansie bepaal. Dit kan tog nie, want in wese is die kerk nie ‘n kultuurinstelling nie, maar ‘n Goddelike groepering. Waar die kerk dus aan die kultuur die reg gee om die wese van die bediening te bepaal, dan is dit nie meer kerk nie, maar sosiale- of kultuurorganisasie. Lees ons nie in Romeine 12 dat die gelowige nie aan die wêreld gelykvormig moet word nie, maar juis anders moet dink en optree. Konformeer is buite die kwessie sê die Skrif. Kultuur sal altyd sekere eise stel aan die liggaam van Christus, dit selfs probeer verander om die karakter van die kultuur aan te neem. Waar die kerk dan vergeet waarom hy in die wêreld is, daar sien ons kompromie. Dan het die kerk verword tot ‘n leë dop vol vormgodsdiens, ontneem van sy mandaat om kerk te wees, en verswak tot ‘n klub waaraan enigiemand kan behoort. 

Hierdie is een van die redes waarom die Ontluikende Kerk soveel veld wen in ons tyd: die kinders van God het vergeet wat dit beteken om liggaam van Christus te wees en het sy relevansie verloor. En hier verskyn ‘n beweging wat die regte knoppies druk en issues aanspreek en “nuwe” vorme van spiritualiteit aanbied – selfs anders kyk na en dink oor God! “Net wat die dokter voorgeskrywe het” sou ons sê. Hulle “luister” na die mens. Ek hoor die N.G. Kerk praat nou van die “luisterseisoen”. Die sogenaamde “seeker-friendly” ingesteldheid. Die klem op die opheffing van die verwaarloosdes, die minderbevoorregtes, die sosiaal onderdruktes, ens. Dit is ‘n kerk wat dans na die pype van die kultuur. Waar die kultuur verkies om te twyfel, daar sê die kerk dis reg, twyfel is ‘n deug; waar die kultuur verkies om God te onttroon, daar reken die kerk evolusie is die aanvaarbare alternatief; waar die kultuur seksueel bevry wil word, daar sê die kerk homoseksualiteit is in orde; waar die kultuur homself wil loswikkel van God se Woord en die gesag daarvan, daar sê die kerk daar is ruimte vir ander paaie buite om Christus en sy waarheid tot geestelike belewenis. Waar ‘n kerk so leeg geraak het, is dit nodig om foefies uit te dink om mense te vermaak.

 

Hier is byvoorbeeld ‘n snit waarin Rick Joyner en sy span mense opsweep om transtoestande te beleef. Hierdie is ‘n duidelike voorbeeld van iemand wat glad nie meer ‘n boodskap het vir die mense wat hy “bedien” nie, en gryp na ander vorme van “vermaak”. (Kan ek net waarsku dat die snit ontstellend kan wees, dus as jy nie senuwees van staal het nie, wees tog maar net versigtig wanneer jy dit kyk).
 

 

Hierdie dinge is simptomaties van ‘n kerk wat nie meer kerk is nie, maar wat verword het en dus nie meer ‘n boodskap het in hierdie wêreld nie.

 

Om relevant te bly, is dit nodig vir die kerk om te hou by sy ontstaansrede en mandaat. Matteus 28:19-20 gee iets hiervan:

Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

‘n Paar dinge val hier op. Eerstens het die kerk ‘n mandaat van Christus ontvang om die wêreld te bedien. Hierdie mandaat se fondament is die Heerskap van Christus oor hemel en aarde. Die kerk is kerk omdat Christus gelowiges afsonder, groepeer en stuur na dié binne die grense van sy heerskappy (hemel en aarde). Niemand kan vir die kerk sê hy mag nie sy roeping uitleef nie, selfs nie vervolging kan dit verhoed as die kerk sy mandaat uitleef nie. Smirna is ‘n goeie voorbeeld hiervan, die vervolgde kerk in China is ‘n voorbeeld hiervan. Die Koningskap van Christus oor die kerk staan sentraal. Hy roep, Hy stuur, Hy bekragtig. Waar die kerk dit onthou, is dit relevant. 

Natuurlik word dit geloën deur die kultuurkerk. Daar is nie ruimte vir die gesag van Christus nie. Inteendeel, Christus word geherinterpreteer as net nog ‘n weg tot redding, as slegs ‘n goeie voorbeeld om na te streef, terwyl sy goddelikheid geloën en verdraai word. Sy gesag is nie meer belangrik nie. Die essensie van ‘n “seeker-sensitive luisterseisoen”, is dat ons nie meer na Christus kyk vir leiding nie, maar na mense luister.

‘n Tweede belangrike moment in hierdie teks is die duidelike opdrag wat die kerk het. Dit is nie ‘n vriendelike versoek nie, nie ‘n wens wat uitgespreek word nie. Dit is ‘n OPDRAG. Die kerk is ‘n geroepe liggaam met ‘n baie spesifieke opdrag om te gehoorsaam. Ek hoor die nuutste term deesdae is dat die kerk “drome” het. Selfs Prof. Nelus Niemandt se boek dra die titel “Nuwe drome vir nuwe werklikhede”. ‘n Droom is ver  van ‘n opdrag. ‘n Droom kan verander, dit kan vervaag, selfs verlore en vergete raak. ‘n Opdrag daarenteen dra gesag, dit impliseer verantwoordelikheid en aanspreeklikheid, die vra gehoorsaamheid.

Waar die kerk sy opdrag neerlê ter wille van ‘n bestaansreg in die samelewing, verloor dit sy posisie as draer van die goddelike waarheid. Hiervan is die talle voorbeelde van staatskerke en hulle impak op die samelewing sprekend.

Kerk is relevant wanneer hy sy roeping in gehoorsaamheid aan sy Here uitoefen. Daar is ook ‘n derde moment om hierby te voeg, en dit is die kerk se roeping behels om mense op God Drie-Enig te fokus. Hy sê dit self: “maak hulle dissipels en doop hulle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”, met ander woorde doen wat jy kan om die wêreld in ‘n lewende verhouding met Hom as die Here van sy liggaam te bring. 

Vraag is of die kerk ons nog aan Christus vasmaak. Hoe lyk die prediking in ons kerke? Hoor ons nog duidelik die oproep om na Hom te kom? Om aan Christus verbonde te wees, beteken ‘n aflê van die ou lewe, ‘n berou oor die sonde en ‘n wandel in die nuwe lewe deur die krag van die Heilige Gees, wat self ook ons fokus rig op Christus die Here. Kyk bietjie die uitleg wat Petrus op pinksterdag gee. Dit gaan oor Christus (Handelinge 2). Paulus skrywe self aan die Korintiërs hy het hom voorgeneem om niks en niemand anders aan hulle te verkondig as Christus die gekruisigde nie. 

Hoe lyk dit in ons kategese, kinderkerke, kleuterkerke, of wat dit ookal deesdae genoem word? Is hulle nog besig om die kinders na Christus te wys, met ander woorde aan Hom vas te maak in ‘n lewende verhouding? Weet ons kinders nog wie is God? Ken hulle Hom as Een in wese, onderskeie in drie persone? Of word hulle besig gehou met mooi programme wat geen blywende effek het op hulle geestelike mondering nie? Hulle is die nageslag wat ons geloof moet voortneem na nuwe hoogtes.

Die Ontluikende Kerk het ‘n “mooi” woord: missionaal. Net jammer dit het niks met die opdrag van ons Here in Matteus 28 te make nie, maar met sosiale opheffing en so verloor die Kerk verder sy identiteit en word net nog ‘n instansie of organisasie om aan te behoort.

Dan gaan dit oor ‘n opdrag om hierdie dissipels te anker in die waarheid van sy Woord: “leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het”. Die kerk word elders genoem ‘n pilaar en grondslag van waarheid (1 Timoteus 3:15). Die Kerk moet die Woord primêr stel, dit verkondig, tydig en ontydig. Dit is immers nuttig 

tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus … tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2 Timoteus 3:15-16)

Van sovele kante af word hierdie aspek verwaarloos, selfs ondermyn. Ons hoor eerder wat sê Rick Warren in sy “Doelgerigte Lewe”; ons word veeleerder gewoond gemaak aan ander mistieke praktyke. Is dit omdat ons nie meer die Woord erken as God se Woord nie, dit nie meer ken nie, of is dit eenvoudig net te veel werk om dit te bestudeer en die waarheid daarvan te deel met God se kinders? Die tendens is nie nuut nie. Hosea het al gesê die volk gaan onder weens ‘n gebrek aan kennis. Jesus het vir die Sadduseërs gesê hulle dwaal oor die opstanding omdat hulle nie die Skrifte en die krag van God ken nie. Daarom al die foefies in ons kerke, al die programme van doen en werk. Gelowiges het nie meer programme nodig nie. Hulle het nodig om God se Woord uitgelê en verklaar te hoor. Dit is relevant. Dit is lewensveranderend.

Hier is ‘n laaste moment, en dit is die teenwoordigheid van Christus in sy kerk: “Ek is met julle …” Waar die kerk leef onder sy Koningskap, doelgerig besig is met sy roeping, gefokus en gewortel in God Drie-Enig, besig om die waarheid van sy Woord te koester, daar sê Christus is Hy teenwoordig. Nou die vraag: kan Hy dan onttrek uit ‘n kerk? Lyk tog so as ons Openbaring 2-3 se briewe lees. Hy is slegs daar waar die kerk kerk is, omdat Hy en sy teenwoordigheid dit kerk maak. Waar Hy nie is nie, daar is geen kerk nie.

Lyk vir my as ons as Kerk van Christus wil wees, relevant vir ons tyd, moet ons wegkom daarvan om deur ons tyd voorgesê te word. Ons mag nie toelaat dat ons kultuur ons wese bepaal nie. Nee, die kerk moet kom daarby om te leef uit hierdie vyf aspekte lsy wese te vind en dit uit te leef binne die kultuur, grig aan die kultuur, en daarom selfs die kultuur te verander. Dan is die Kerk relevant, dinamies en met die krag van God se Gees vervul om sy roeping met oorgawe uit te leef. Mag dit deurbreek tot ons kerkleiers en ons die effek daarin ervaar op elke terrein van ons kerklewe.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *