Hierdie groepsbespreking was deel van die byeenkoms van die Kaapse Studiegroep oor die Belydenisse en spesifiek die Heidelbergse Kategismus. Die tema van hierdie bespreking was as volg: Wat leer Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37 en die Heidelbergse Kategismus Sondag 52 ons oor die Duiwel?

 

Volgens die Belydenisse is dit onsinnig om die bestaan van die duiwel te ontken.

Die Belydenis van Nicea bely God as die Skepper van beide die sigbare en onsigbare dinge. Om dus die duiwel se bestaan te ontken, is ook om die bestaan van die onsigbare wêreld te ontken.

Gewoonlik het mense ‘n probleem met die duiwel omdat hulle ‘n probleem het met Jesus Christus. Openbaring 12:11 stel dit as volg: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam.” Om dus die duiwel te ignorer, sy karakter te verander, of hom te ontken, is ‘n duidelike teken dat daar nie ‘n verhouding met die Lam, die Here Jesus, is nie.

Die duiwel is ‘n geskape engel wat in rebellie teen God gedraai het. Die klem is op die geskapenheid. In teenstelling met God is hy dus nie almagtig, alwetend of alomteenwoordig nie. Hy het ‘n span helpers, dit is van die mede engele wat onder sy aansporing ook teen God gerebelleer het.

Jesus se versoeking wys dat die duiwel is ‘n realiteit. Die ontkenning of verdraaing van sy persoon het implikasies vir die identiteit van Christus. Die bekende uitdrukking geld hier vir Christus, naamlik “Liar, Lunatic or Truth.” Indien die duiwel se persoon ontken word, maak dit van Christus iemand wat in Homself ‘n worstelstryd teen sy innerlike boosheid gehad het. Dit lei natuurlik tot ‘n ontkenning van sy sondeloosheid en het verdure implikasies vir sy geskikdheid as volkome offer vir die sonde van die mensdom.

Die vraag is dat indien die duiwel slegs ‘n bose gedagte was, hoe sou ons kon weet dit is boos? Hiervoor word dan gewoonlik geredeneer volgens die idee van die hoeveelheid skade wat dit kan hê vir andere. Dit is egter nie geldig nie. Die Gereformeerde standpunt van Sola Scriptura bly van krag, want daaruit leer ons die identiteit van die duiwel en sy bose karakter.

Die Bybel bly die maatstaf. Die voorbeeld van Jesus in sy hantering van die versoeking toon dit duidelik. Telkens het Hy terugverwys na die Wet, Profete en Geskrifte.

Die gesag van die Skrif is dus belangrik. Indien God nie aanvaar word as die outeur van die Skrif nie, dan is die Bybel nie sy Selfopenbaring nie. Die duiwel word geken deur die Openbaring van God aan die mens soos opgeteken in die boeke van die Bybel.

Ons opinie van die duiwel affekteer ons opinie van God, en natuurlik ook andersom.

Dit is ‘n geldige vraag of die prediking nie ‘n rol te speel het in die algemene onkunde onder mense oor die ware identiteit van die duiwel nie.

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *