Hierdie groepsbespreking was deel van die byeenkoms van die Kaapse Studiegroep oor die Belydenisse en spesifiek die Heidelbergse Kategismus. Die tema van hierdie bespreking was as volg: Daar word deesdae deur sommige gesê dat Jesus nie letterlik uit die dood opgestaan het nie. Watter troos hou Sy opstanding in so ‘n geval vir ons volgens Sondag 17 in?

 

Eerstens, het Hy deur Sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur Sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.

Indien Christus nie uit die dood opgestaan het nie, sou Sy sterwe steeds vir ons geregtigheid verwerf het?  Nee –  1 Korintiërs 15:14 – 20.

Veldkamp – Deur Sy opstanding het God die Vader gewys dat Sy versoeningswerk vir Hom aanneemlik is.

 

Hoekom moes Hy opstaan?

Dat Sy dood vir ons geldig kan wees en dat ons kan deel in Sy geregtigheid.   Dood as straf op sonde moes Hy volkome dra.  As Hy nie opgestaan het nie, sou dit beteken het dat Hy nog nie die straf volkome gedra het nie.  Adam se geregtigheid het bestaan in die onskuld waarin hy geskape is.  Toe dit getoets was, het dit misluk.  Die geregtigheid van Christus het alle versoeking, sonde en dood oorwin en is veel groter as Adam s’n.  Dit is die geregtigheid wat ons deel word.

Ook Christus se lewe was plaasvervangend.  Die lewe wat ons moes gelei het, het Hy vir ons gelei.  Ook waar ons as gelowiges in ons lewens tekortskiet, kan ons op Sy lewe vir ons vertrou.

Sy opstanding is nodig vir eenheid met Hom.  As Christus geestelik opgestaan het, sonder liggaam, is Hy nie meer volkome mens nie.  Indien ons sê dat Hy metafories opgestaan het, beteken dit dat Hy nie opgestaan het nie.  God is nie ‘n God van die dooies nie.  vgl  Lukas 20:37,38.

Tweedens, word ons nou ook deur Sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek.

Ons rus in Christus se volmaaktheid – dis reeds verdien.  In dankbaarheid kan ons dit naleef.  Adam het die volmaaktheid verloor en daarvoor moes geboet word.  Die verlossingswerk van God kan ons nou met dankbaarheid laat leef.  Romeine 6:9,10 impliseer dat Christus se lewe na Sy opstanding en verheerliking sondeloos is.  In die vlees op aarde het Christus in gehoorsaamheid aan God gelewe, maar daar was nog die moontlikheid van versoekings en sonde.  Op aarde het Hy vir ons verlossing gelewe, maar NOU lewe Hy anderkant die moontlikheid van versoeking en sonde as Koning vir ons bewaring en eenheid. Ons is een met Hom, absoluut dood vir die sonde.  Romeine 6:11.  Ons moet onsself tot beskikking van God stel as mense wat uit die dood lewend geword het.  God kan net aanvaar wat heilig is.  Daarvoor is Christus se geregtigheid wat Hy deur Sy opstanding volmaak het, nodig.  Wie hom in eenheid met Christus aan God wy, is vir Hom aanneemlik.

Derdens, is die opstanding van Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Christus is die Eersteling van die wat ontslaap het;  1 Korintiërs 15:20.

Hy is opgewek ter wille van ons regverdigmaking.  Romeine 4:25.

Ons sou sterwe deur ons misdade, maar Christus se regverdigmaking en opstanding, het vir ons ‘n lewende hoop gegee.  1 Petrus 1:3.

Omdat die algemene opstanding ook die ongelowiges insluit, staan die ongelowiges dan uit die dood op a.g.v. Christus se opstanding?  Nee, die ongelowiges sal opstaan vanwee God se krag, maar nie vanwee Christus se soenverdienste nie.  Hulle staan op tot die veroordeling van die ewige dood.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *