“Alhoewel ons bewustelik vanuit die Christelike tradisie – in sy breedste sin – werk …”
Hierdie is die woorde wat Abel Pienaar gebruik is sy mees onlangse blog Kop & Hart: Vertrekpunte vir oop debat. Dit volg op ‘n vorige blog waarin hy sy sogenaamde “geloofsbelydenis” uiteensit, waar hy dieselfde uitdrukking gebruik. Nou is my vraag: hoe breed kan hierdie sogenaamde Christelike tradisie dan nou wees? Vir my gevoel opereer Pienaar glad nie meer vanuit ‘n Christelike raamwerk nie. Inteendeel, hy gebruik slegs die sogenaamde Christelike sousie om sy dwalinge mee in te kleur. Dit is duidelik dat hy vanuit ‘n onbybelse, nie-christelike wêreldbeskouing dink en opereer en myns insiens sou hy eerliker wees as hy nie sy volgelinge probeer belas met die voorhou van Christelike nie. Hy sou ook eerliker wees as hy die res van die gemeenskap wat hom vrae vra, reguit antwoord dat hy bloot gemaklike Christelike konsepte gebruik, maar nie vanuit die Christelike tradisie werk nie.
Wie is Abel Pienaar?
“Abel Pienaar het twee grade in Teologie (Universiteit van Pretoria) en ‘n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het vir elf jaar gewerk as voltydse leraar in die Ned. Geref. Kerk in ‘n makro gemeente in Pretoria. Tydens hierdie tyd word hy verkies tot die Sinode se direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, ‘n posisie wat hy behou tot hy in 2006 bedank uit die NG Kerk.
Abel het gestudeer onder Thich Nhat Hanh (Zen Boeddhis, Frankryk) en ook blootstelling gehad en geleer by o.a. die huidige Dalai Lama, Fr. Thomas Keating, Biskop John Selby Spong, Ken Wilber, Sam Harris ens.
Abel is ‘n leraar van Renaissance, ‘n gnostiese gemeente in Pretoria. Hierdie geestelike gemeenskap het gegroei en daar is middel 2008 ook in die Kaap begin met ‘n Renaissance Gemeente. Abel dien ook op die Nuwe Hervormings Netwerk se dagbestuur vir die afgelope 3 jaar.
Hy het ‘n voltydse praktyk (Inner Awareness Therapist) en het ‘n meditasie studio waar hy weekliks meditasie klasse aanbied.”1
Hy is dan ook op die direksie van die Sentrum van Eietydse Spiritualiteit (SES), waarvan hy saam met Prof. Celia Kourie, Prof. Kobus Krüger, Prof. Hansie Wolmarans, Dr. Piet Muller stigterslede is.2 Diegene wat bekend is met die Nuwe Hervormers, sal die name van Dr. Piet Muller en Prof. Hansie Wolmerans herken.
Dit is duidelik uit die kort biografie op die SES webtuiste dat Pienaar ‘n affiniteit het vir alternatiewe godsdiens ervaringe en leerstellings waarteen die Bybel ons uitdruklik waarsku. Kom ons dan terug na die twee onlangse blogs hierbo genoem, is dit nodig om dit te meet aan wat die Skrif ons leer oor wat die Christelike tradisie dan nou behels en hoe breed dit werklik kan wees.
Die Bybel is die Woord van God
Hierdie is ‘n eerste belangrike uitgangspunt vir die behoudendheid van die Christelike geloof. Die bybel is hieroor ernstig. ‘n Afgewaterde hantering van God se Woord lei noodwendig tot ‘n nie-Christelike – of dan onbybelse – wêreldbeskouing. Die gevolg van so lae siening van die Woord van God is ‘n skeefgedraaide leer en gevolglik ook ‘n skeefgedraaide lewe.
Pienaar is duidelik oor waar hy staan ten opsigte van die Skrif:
“Ons het waardering vir die Bybel en ander religieuse geskrifte. Maar soos enige menslike kennis en insig tydsgebonde en voorlopig is, so ook is religieuse wete voorlopig en gebrekkig; dus is daar geen absolute gesag aan enige geskrif of belydenis nie …”
Volgens hom is daar geen geen absolute gesag aan enige geskrif of belydenis nie. Tog eis die Woord van God gehoorsaamheid daaraan, nie omdat dit deur mense geskrywe is nie, maar juis vanweë die inspirasie daarvan deur die Gees van God self. Waardering is nie genoeg nie. God eis dat sy Woord gehoorsaam sal word en nie waardeer moet word asof dit ‘n pragstuk is van literêre werke nie (terwyl die Bybel dit wel is).
Die regte beskouing van God se Woord is tog kern van dit wat ons sal noem die Christelike tradisie. Daar verby kan jy dit nie rek om breër te raak nie. Enige beskouing die Woord van God afmaak, verbreed nie die Christelike tradisie nie, maar klim oor die grens in ‘n ander speelveld.
Hoor Israel, die Here onse God is ‘n Enige Here
Met hierdie woorde in Deuteronomium 6:4 lê die Skrif dan ook vas wie God is en roep die volk op tot toewyding aan Hom alleen. Jesaja 40:28:
‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde
Jesja 40:18:
By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
Jesaja 46:8-9:
Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! 9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
Die God van Israel, die Skepper van alles wat bestaan, Vader, Seun en Heilige Gees openbaar Homself in die Skrif as die enigste God en naas Hom is daar niemand wat met Hom vergelyk of gelyk gestel kan word nie. Satan het die eenmaal probeer voordat hy uit die hemele geskop is vanweë sy verwaandheid.
Pienaar se opereer duidelik van die anderkant teen die Christelike tradisie, naamlik die panenteïsme. Sy medestigter, Dr. Piet Muller, skrywe die volgende:
“Die keuse is vandag nie meer tussen teïsme (‘n verpersoonlikte God) en Panteïsme (alles is God) nie. Daar moet dringend nuwe maniere en nuwe metafore gevind word om sinvol oor die Al te praat.
“Die filosoof Wittgenstein het die begrip ‘Panenteïsme’ geskep om ‘n oplossing te vind vir die probleme wat die nuwe wêreldbeeld vir die teïstiese godsbegrip inhou. Om aan God te dink as ‘n goddelike supermens (teïsme) is nie meer aanvaarbaar nie…
“God is inderdaad in alles en alles is in God, daarom het Wittgenstein begin praat van panenteïsme om hierdie nuwe siening te beskryf.”3
God word inderdaad herdefinieer deur Pienaar en sy aanhangers. Lees gerus maar sy “geloofsbelydenis” om dit te sien. Selfs Wolmerans, nog ‘n stigterslid, handhaaf hierdie panenteïsme. Oor Psalm 23 skrywe hy byvoorbeeld sy eie weergawe met die volgende kommentaar:
“Die volgende weergawe (my eie) van Psalm 23 gee uitdrukking aan ‘n panenteïstiese opvatting van God, waarin God alles in almal is.”4
Christelike tradisie? Ek dink nie. Panenteïsme is so ver van die Bybelse beskouing van God dat dit vreemd is dat Pienaar reken dit is Christelike tradisie.
Hulle praat van God op vreemde maniere. Muller noem hom die “Al”, Pienaar die “groot en onpeilbare Geheim wat ons die goddelike noem”, maar in sy geloofsbelydenis sien hy elke lewende wese as manifestasie van god se liggaam.
Elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God
Johannes skrywe sy eerste brief aan gelowiges wat alreeds te make het met ‘n vroeë vorm van gnostisisme. Hulle het onder andere ontken dat Jesus, as Seun van God, werklik mens geword het, gesterf het en opgestaan het uit die dood. Nou waarsku Johannes in 1 Johannes dat die geeste getoets moet word, en die kardinale punt is wat hulle bely oor Jesus se menswording. Vroeër skrywe hy:
Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie. (1 Johannes 2:22-23)
Duidelik wys jou beskouing van Jesus of jy vanuit ‘n Christelike oogpunt optree of nie. Nou sê Pienaar oor Jesus:
“Ons volg Jesus as voorbeeld en leermeester na. Daar is egter ook vele ander voorbeelde en leermeesters waarvoor ons oop is om by te leer. Hulle almal is vir ons ‘n simbool tot ons verbondenheid en eenheid met die goddelike.”
Sy Jesus is slegs ‘n voorbeeld en leermeester, op dieselfde vlak as wat Boeddha (Pienaar is ‘n aanhanger), Ghandi, ens. sou kon wees. Insiggewend. Jesus is nie die Christus nie, hy word nie aangedui as die Seun van God nie, hy het nie vlees geword nie. Gesien in die lig van die gnostiese inslag van Pienaar se Renaissance Gemeente, is dit te verstane dat sy Jesus ‘n ander Jesus is as dié van die Bybel. Johannes is reguit in sy beoordeling: as jy Jesus as die Seun van God ontken, as jy Hom ontken as die Messias wat vlees geword het, is jy nie uit God nie. In terme van Pienaar se eie woorde – werk jy nie vanuit die Christelike tradisie nie.
Sy verbintenis met die Nuwe Hervormers, wat weer op hulle beurt baie sterk koppel met die Jesus Seminar, bevestig net dat die Jesus wat hy as voorbeeld en leermeester dien, ‘n afgod is en nie die Jesus Christus, die Seun van die lewende God nie (Mattheus 16:16-18). Kyk maar onder ander wat Marcus Borg oor Jesus te sê het.
Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe
Hierdie belangrike woorde het Jesus oor Homself gesê. Waarheid is te vinde by Hom. Vir Pilatus het Hy kon sê die waarheid maak vry. Wat my opval oor die Sentrum van Eietydse Spiritualiteit is wat hulle sê op hulle voorblad:
“SES bestaan uit Afrikaners wat hulself sien as soekers na die waarheid.”5
Interessant dat hulle soek na die waarheid, maar self erken daar is geen waarheid nie:
“En alhoewel ek nie van geloofsbelydenisse of groot “waarheids”-verklarings hou nie – want alle menslike kennis is voorlopig – het ek ‘n tyd gelede al met so ‘n poging tot ‘n geloofsbelydenis begin en kon toe dit net so gee. En ja, natuurlik is dit slegs ‘n voorlopige, beperkte en hoogs persoonlike siening.”
“Ons noem dit juis vertrekpunte omdat dit beskou moet word as voorlopig en nie as finale waarhede nie.”
Wat ‘n verdoemende soeke na iets wat nooit te vinde is nie!
Uit hierdie paar oorwegings, is dit sonder twyfel dat waar die by Christelike waarheid kom, hy beskou moet word as ‘n dwaalleraar. Die feit dat hyself nie kan sien dat hy buite die Christelike tradisie werk nie, is uiters verstommend. Sy ideologieë is misleidend, ‘n leuen en onbetroubaar. Hier is nog nie eens verwys na die beskouing van die mens as sondaar, onder oordeel van God en in nood van God se reddende genade in Christus nie in ‘n sekere sin is dit af te lei uit die godsbegrip hierbo, met die vraag hoe kan ‘n god wat alles in almal is sonde hê).
In terme van die eienskappe van dwaling, voldoen Pienaar alreeds aan al drie die temas wat tot nou toe hanteer is. Hy het ‘n lae siening van God se Woord, ‘n lae siening van God en ‘n verwronge beskouing van Christus. Moenie gebluf wees deur sy “Christelike tradisie” sousie nie. Dit is vals en misleidend.
Voetnotas
1. Geneem van die webtuiste van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (http://www.spiritualiteit.co.za)
2. Ibid
3. Piet Muller (red), Die Nuwe Hervorming, Pretoria Boekhuis, 2002, p12-13
3. Ibid, p65
5. http://www.spiritualiteit.co.za