Ons lees die volgende aangrypende vers in Deuteronomium 30:11-14:

“Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”

Israel is op die drumpel om die Beloofde Land binne te trek en God beveel hulle sekere dinge wat noodsaaklik sou wees vir hulle lewe en voortbestaan in hierdie nuwe land. Vir die mens se hartsgeneigdheid tot rebellie en ongehoorsaamheid, kan hierdie dinge moeilik en onverstaanbaar klink. Tog gee God self die versekering dat sy gebooie nie onduidelik is en onverklaarbaar nie.

Die Woord van God is en was nog altyd duidelik vir die mens en dit was van die begin af die bedoeling van God. Hy het nie vir Adam en Eva gevra of hulle dan nie sy opdrag reg verstaan het nie. Hy het hulle direk verantwoordelik gehou vir hulle ongehoorsaamheid daaraan. God het nog nooit in geheime en onverklaarbare kodes en taal met die mens gepraat nie. Paulus lig iets baie interessants oor ‘n jong Timotheus uit as hy hom daaraan herinner dat hy van kleins af die heilige Skrifte ken (2 Timoteus 3:15).

Die leer oor die Duidelikheid van God se Woord is een van die aspekte wat in die tyd van die Reformasie weer sterk na vore gekom het. Die Rooms Katolieke stelsel het die Skrif en interpretasie weerhou van die gewone mens op straat, sogenaamd onder die dekmantel van beskerming teen dwaling. Die omgewing het egter meer begin vra vir die losmaak van die juk van die kerklike beheer en die Reformasie het die instrument daarvoor gebied. Skielik was die Woord toeganklik vir almal en nie meer net vir die kerklike leiers nie. SOLA SCRIPTURA was die credo!

Die beginsel agter die Duidelikheid van die Skrif is dat die Skrif verklaar homself. Moeiliker gedeeltes word verklaar deur Skrif met Skrif te vergelyk. Dit redeneer nie die realiteit weg dat daar moeilike dele is wat meer aandag vra om reg verstaan te word nie. Hiervan is 2 Petrus 3:15-16 ‘n sprekende voorbeeld:

“En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,  net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.”

Die moeilikheidsgraad van sekere gedeeltes bring nie die duidelikheid daarvan in gedrang nie. Jesus se waarskuwing in Johannes 12:48 sê die volgende:

“Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.”

Jesus laat nie ruimte hier vir misinterpretasie nie. Die woorde wat Hy praat is duidelik genoeg om deur enigeen verstaan te word en sal as oordeelsinstrument aangelê word, sodat die mens sonder verontskuldiging sal wees. 

Dit beteken ook nie dat die mense wat die Woord ontvang dit met ‘n dowwe, passiewe brein moet ontvang nie. Die ouens in Berea het die Skrifte ondersoek om te sien of dit wel die waarheid is wat Paulus en sy span verkondig het (Handelinge 17). God se Woord is duidelik en verstaanbaar, maar vra nog steeds die mens om dit te ondersoek.

Die Postmodernisme het dit in sy wese om waarheid te bevraagteken en te relativeer. In deel 1 van hierdie reeks het ek al hierna begin verwys en deel 2 en deel 3 het die konsekwensies hiervan net verder belig. ‘n Tweede groot effek wat die Ontluikende Kerk se dans in die teaters van die postmodernisme op die Evangeliese Kerk het, is naamlik dat dit die Duidelikheid van die Skrif in twyfel trek. Die blote feit dat waarheid nie meer waarheid is nie, maak dat die Skrif ‘n duister boek word. Die sentrale boodskap van die Skrif, wat soos ‘n goue draad deurloop, naamlik God se verlossing in die verloop van geskiedenis, is nou onbekend. Vir Timotheus skrywe Paulus dat die Skrif het krag tot saligheid (2 Timotheus 3:15). Juis die duidelikheid van die Skrif het hierdie krag. Vir die postmoderne verstaan van reg en verkeerd, waarheid as objektiewe maatstaf, geld dit nie meer nie. 

Ook die verwerping van die inspirasie van God se Woord deur die postmodernisme kap aan die leer van die Skrif se deursigtigheid. Omdat die Skrif, volgens die neo-ortodokse verstaan, nie God se Woord is nie, maar word binne die kultuur, word die verstaan van God se Woord ook nou tydgebonde omdat my konteks vandag kan verskil van more en dit bring mee dat my verstaan van die boodskap vandag sus kan wees en more so. Dit is waarvan die Skrif praat wanner dit verwys na die “wind van leringe” wat die kerk tref. 

Die metodes van skrifuitleg verduister verder ook die duidelikheid van die Skrif. Mitologie is ‘n gunsteling. Die allegoriese uitlegmetodes van Augustinus het die kerk bygebly en maar net uitdukking gekry op ander wyses, waarvan die mitologie aan die bopunt van die lys is. Hiervolgens word groot dele van die Skrif se letterlike en historiese inhoud uitgeruk en slegs die morele en spirituele waardes gehou. ‘n Voorbeeld hiervan is Genesis 1-11. Ons kan nie hier op die detail hiervan ingaan nie, maar kan net noem dat hierdie gedeelte is so verdoesel vir die postmoderne mens dat God as Skepper onteer en misverstaan word, sonde word no onduidelik. Dink ook aan die konsekwensies hiervan vir die verstaan van gedeeltes soos byvoorbeel Romeine 5, 1 Korintiërs 15 en Hebreërs 11. 

Ook die Dekonstruksie metode wat aangelê word, het geen ander effek as om te verduister nie. Eric English vra byvoorbeeld in ‘n blog:

“Am I Fallen or Falling; Am I Depraved or Lost?” (Aanlyn Bron)  

Die postmoderne meester het die kuns vervolmaak om deur baie woorde te bevraagteken absolute verwarring te veroorsaak (en dan ook deur absoluut niks nuuts te sê wat so erg bevraagteken word nie). 

Al hierdie faktore saam het die gevolg dat kinders van die Here en die Kerk vandag totaal verward is oor wat die waarheid dan nou eintlik is en dat daar ‘n twyfel is of die Skrif werklik nog so duidelik is soos deur die geskiedenis geglo is. Die boodskap is ‘n duisend keer JA! Self nie die postmoderne Ontluikende Kerk het dit in sy vermoë om die Skrif in sy wese onduidelik te maak nie. Hoe meer daar dwaling na vore kom uit hul geledere, hoe duideliker is die Skrif vir die kind van God wat besef dat hierdie is net nog ‘n verdere vervulling van die profesieë in die Woord. Die ware kerk hoef nie terug te deins vir die valsheid wat die Ontluikende Kerk oor die Skrif se wese en waarde leer nie. God se Woord is Sy Woord en daarmee saam sy klinkhelder boodskap van genade, van liefde, maar ook van sonde, bekering en oordeel. Oor hierdie aspekte laat die Skrif ons nie in die donker loop nie.

 

Sien ook

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 1 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 2 – Objektiewe Waarheid word afgebreek 
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 3 – Objektiewe Waarheid word afgebreek 
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 5 – Die roeping van die Kerk word verdraai
Karl Barth se beskouing van die Skrif help die Ontluikende Kerk  
Is die Bybel die “Woord van God”?
Het die Bybel nog gesag? 
Ek dank God vir die Ontluikende Kerk

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *