In die briewe wat die Here Jesus Christus aan die sewe kerke in Klein Asië dikteer, word ‘n paar dwalinge waarmee die kerk te make gehad het by name genoem en die kerk aangespreek ook die akkommoderende houding hierteenoor. Een van hierdie dwalinge word by name genoem die “leer van Bíleam” wat die kerk in Pérgamus gehuisves het (Openbaring 2:14). Dit word verder gekwalifiseer as “wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer”

Judas verwys ook na die “verleiding van Bíleam” (vers 11) wat die dwaalleraars “om loon” nagevolg het. Petrus verwys in 2 Petrus 2:15 van die “weg … van Bíleam” en kwalifiseer hom verder as dat hy “die loon van ongeregtigheid liefgehad het”

Ook in die geskiedenis van Israel word hy telkens na verwys, aangesien sy rol in hul geskiedenis ‘n kritieke moment in hulle bestaan as volk van God was (Deuteronomium 23:4-5; Josua 13:22; Josua 24:9-10; 1 Kronieke 6:70; Nehemia 13:2; Miga 6:5). Hy het ‘n baie groot invloed gehad op die volk van Israel, so groot dat daar na die navolging daarvan verwys word as ‘n “leer”, ‘n “weg” en “verleiding”.

Om te verstaan waarom dit in die kerk as ‘n prominenete dwaling beskou is, moet ons verstaan waaroor dit gegaan het in die geskiedenis van Israel. Die verhaal van Bíleam is opgeteken in Numerie 22-24. Die koning van die Moabiete, Balak, sien die volk Israel optrek deur die land en besef hierdie volk is ‘n bedreiging vir sy koninkryk. Sy plan: maak gebruik van waarsêery en vervloeking om die volk Israel te keer. Dis tog interessant dat hy hulle nie met sy weermag aangevat het nie, maar ‘n “geestelike” benadering gevolg het. Sy oortuiging was dat sy militêre mag dit nie sou maak nie (Numerie 22:6). Balak oortuig sy leiers van sy plan en hulle sak af na onse “profeet” met ‘n “waarsêersloon” (Numerie 22:7). God stop vir Bíleam en die leiers gaan is terug na Balak, wat op sy beurt die beloning aan Bíleam vergroot met “meer en aansienliker as die ander” (Numerie 22:15). Hierdie tweede keer kom daar nog beloftes by van Balak se kant af:

Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen (Numerie 22:17)

Hierdie ou was ernstig om Bíleam te kry om Israel te vervloek. God praat toe weer met Bíleam oor die besoekers en die pad vorentoe, maar ons man spring toe die volgende oggend op sy donkie. Die donkie draai toe uit as meer geestelik ingestel as Bíleam en sien telkens die “gevaar”, of dan “Engel van die Here” in die pad. Einde te laaste praat hierdie donkie toe ook nog met hom oor die onnodige kastyding (definitief op ‘n ander vlak as Bíleam!) 

Bíleam gaan toe op God se instruksies saam met die boodskappers Balak tegemoet. Met hulle ontmoeting bring Balak weer op dat hy Bíleam kan “vereer” (Numerie 22:37). In Numerie 23 en 24 word vertel hoe Bíleam en Balak altaars oprig en offer en God telkemale instap om Israel te seën en te keer dat Bíleam ‘n vloek oor hulle uitspreek. Balak het hom einde ten laaste so vervies vir Bíleam dat hy hom huis toe stuur, maar nie sonder dat Bíleam ook eers iets oor hom te sê gehad het nie, en ook vir hom raad gegee oor hoe om wel die volk van God te verswak.

In die eerste verse van Numerie 25 lees ons die volk Israel het seksueel oortree met die Moabiete én hulle afgode begin aanbid. “So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam.” (Numerie 25:3). In Numerie 31:16 sê Moses oor die Midianiete

Kyk, hulle was, deur die raad van Bíleam, vir die kinders van Israel ‘n oorsaak van troubreuk teenoor die HERE in die saak van Peor, sodat die plaag in die vergadering van die HERE was.

Uit hierdie verhaal en die konsekwensies daarvan, sowel as die verwysings in die Nuwe Testament daarna, leer ons die volgende oor die karakter van die dwaling van Bíleam:

1. Dit het te make met finansiële voordeel

Ek het hierna verwys na spesifiek die kere dat daar beloning aan Bíleam gegee is vir sy dienste. Dit word selfs “waarsêersloon” genoem. Nêrens het Bíleam dit van die hand gewys of terug gestuur na Balak toe nie. 

Judas verwys na die valse leraars wat die kerk binnegekom het en ter wille van “loon” die verleiding van Balak gevolg het, met ander woorde hulle fokuspunt was finansiële gewin. Paulus waarsku hieroor in 2 Timoteus 3:

Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges …

Petrus sê dat die valse profete sal

uit hebsug … met verdigte woorde voordeel uit julle trek. (2 Petrus 2:3).

Hy noem dan hierdie gierigheid verder die “loon van ongeregtigheid”.

Hulle ag die weelderigheid oordag ‘n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul;  14 met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ‘n hart geoefen in hebsug … (2 Petrus 2:13-14).

Die “prosperity” leer is niks anders nie as die navolging van die weg van Bíleam. Hierdie vals leraars skroom nie om elke sent uit hulle volgers te druk nie, net om daardie duisende, selfs miljoene, in hul eie sak te druk in die vorm van weelde en gemak. Dit doen hulle nogals deur dit uit die Woord van God te regverdig. Dievolgende snit sê dit in soveel woorde: 

 

Dit is so in kontras met wat ons in die Skrif lees oor die gee van geld, die versorging van die bedienaars en die instandhouding van die kerk van Christus.

2. Dit het te make met menseverering

Meer as een keer verwys die verhaal van Bíleam na die eer wat hy sou ontvang van Balak. Die navolging van die loon verwys ongetwyfeld hierna ook. Die mens in sy valsheid soek na rykdom en roem. Hoe dan ook anders, die duiwel homself se groot probleem was eer groter as dié van sy Skepper. Die hart van die mens is bedorwe bo alles, sê die Skrif vir ons.

Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, … grootpraters, trotsaards … (2 Timoteus 3:2).

Hulle verwaandheid gaan sover volgens Judas en Petrus dat hulle selfs nie omgee oor wat hulle van die geesteswêreld kwytraak nie.

Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie … (Judas 1:8-10)

Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie. Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan en die loon van die ongeregtigheid ontvang (2 Petrus 2:10-13).
 

 

Die Ontluikende Kerk se teologie is nie ver daarvan om van die mens ‘n god te maak nie. Die hele beskouing van die mens deur die Ontluikende teologie is ‘n dryf tot godheid. Deur die inklusiewe aard daarvan, word die mens as deel van die godheid beskou. In die “Progressive Christianity”, waarvan John Shelby Spong en Marcus Borg (ook van die Jesus Seminar) lede is, is die eerste punt van hulle oortuigings as volg:

Believe that following the path and teachings of Jesus can lead to an awareness and experience of the Sacred and the Oneness and Unity of all life;

Duidelik panteïsties, wat die mens verhef tot wat hy nie is nie. Hierdie is duidelik besig om deur die mistieke praktyke die kerk in ons land binne te dring met mag en mening. Konsepte soos kontemplatiewe gebed word natuurlik op die spits gedryf. 

3. Die kinders van God word gelei tot afgodery

Volgens Numerie 31 is Israel deur hierdie dwaling gekoppel aan Baal-Peor. As daar een ding is wat ‘n gruwel is in God se oë, dan is dit die aanbidding van en diens aan ander gode. Sy wet sê dit so duidelik: “Ek is die Here jou God … jy maag naas My GEEN ander god hê nie … Jy mag vir jou GEEN gesnede beeld maak nie” (Eksodus 20). Die rede is dat God weet wie agter hierdie ander gode is en dat hulle daarop uit is om die mens te verwoes en stukkend te laat. God is ‘n jaloerse God sê die Skrif.

Deur afgodery word jy gekoppel aan die god wat jy aanbid en dit is nie die God van die Bybel, die Drie-Enige God wat red en vrymaak nie. Wanneer leraars teologie toelaat wat lidmate koppel aan afgode, dan lei hulle die kudde weg van God af. God haat dit, Hy weerstaan dit met sy hele wese. 

Rick Warren is seker op die voorpunt hiervan in ons dag met sy P.E.A.C.E plan en sy Daniel Plan. Laasgenoemde is ‘n gesondheidsplan vergeestelik. Dis nou as jy nie meer die Skrif reg kan sny nie, dan hardloop jy na foefies toe. Die belangrike is die rolspelers in die Daniel plan. Daar is onder andere Dr. Oz, wat die okkulte gebruik in sy genesingswerk. Dan is daar Dr. Amen, wat meditasie en Tantriese seks promoveer, so ook Dr. Mark Hyman.

Met sy 40 dae van doelgerigte misleiding het Warren die kerk in Suid Afrika met ‘n storm gevat. Soveel kerk het al deur hierdie program gegaan, meer nog deel geraak van die teologie wat hy propageer. Hierdie man is ook van mening dat die god van Islam dieselfde is as die God van die Bybel:

 

Hy is besig om die kerk gewoond te maak aan Islam se valsheid en om dit in te bring binne die ruimte van die kerk. Levitikus 19:31

Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.

en Levitikus 20:6

En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.

4. Die kinders van God word verlei tot seksuele onreinheid

Die vierde karaktereienskap van die leer van Bileam is die verleiding tot seksuele onreinheid. Dit is interessant hoedat afgodery in soveel gevalle saamgaan met seksuele onreinheid. Dit is waar in ‘n metaforiese sin, waar die Skrif verwys na die afdwaal na ander gode as seksuele ontrouheid, maar ook in die fisiese sin van die woord. 

Hierbo is reeds verwys na die mense wat deel is van Rick Warren se Daniel Plan. Hulle promoveer Tantriese seks, wat na beide die fisiese en geestelike vlak sny. 

Die druk om homoseksualisme in die kerk in te kry is niks anders as ‘n openbaring hiervan nie. Romeine is nogals duidelik daaroor dat omdat die mens God se openbaring van Homself geminag het en in afgodery verval het, het Hy hulle oorgegee aan seksuele drange na dieselfde geslag:

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: (Romeine 1:18-28).

Dit is duidelik uit hierdie punte dat die leer van Bileam teenwoordig is in die kerk. Ons noem dit net nie meer so nie, want dit sal nie mooi klink nie. Tog bly God se hart hieroor dieselfde. Hy haat dit, weerstaan dit en sal dit beveg omdat dit lynreg staan teenoor wie Hy is. Dit moet ook ons gesindheid wees.

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *