Ek lees in Psalm 107:19 – 20 hierdie woorde:
“Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.”
Hierdie woorde lig die wonderlike beginsel van die krag van God se Woord om te red vir ons uit. Ook op ander plekke in die Woord lees ons dieselfde. 2 Timoteus 3:15:
“en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”
In Jakobus 1:18:
“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.”
1 Petrus 1:23:
“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.”
Romeine 10:14-17:
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
Johannes 17:6-8:
“Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.”
In ‘n era waar God en sy Woord geminag word, waar bybelse waarheid onder geweldige aanval van die bose geesteswêreld deurloop in navolging van die vader van leuens, staan hierdie waarheid oor God se Woord en die reddende krag daarvan soos ‘n paal bo water. God red deur sy Woord!
Juis om hierdie rede is dit nodig vir die Evangeliese Kerk om opnuut weer terug te keer na suiwer Woordverkondiging. Die postmodernisme beskuldig die kerk dat dit uigedien geraak en nie meer relevant is nie. Ek wil myself verstout om te sê dat die pogings van die postmodernisme om mense sogenaamd te vul met betekenis en sin in die lewe, hulle eintlik leeg gaan los op soek na ‘n volgende hype omdat hulle pogings nie standhoudende, ewigheidsveranderende aksie is nie. Die ENIGSTE antwoord vir hierdie generasie en die generasies wat kom is vir die Evangeliese Kerk om terug te keer na die suiwere, duidelike, gesagvolle uitleg en prediking van God se ewige Woord.
Hierdie Woord is lewend, dit is ewig, dit is kragtig, dit is lewensveranderend, met die krag van God gevul om enige mens se lewe om te dop dat dit 100% anders is daarna. Handelinge 16 vertel van Lidia se redding:
“En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” (vers 13-14).
Dit is waarvan Romeine 10 hierbo aangehaal praat. Wanneer die Woord van God ‘n geopende hart raakvat, is dit lewensveranderend. Daarom noem die Bybel dit “wedergeboorte”, om deur die Gees wat God se Woord gee in jou gees so vernuwe te word dat jy uit die duisternis uitgeruk word in God se koninkryk in. Dit kan ook nie anders nie, want die woord wat gelees en verkondig en uitgelê word, is die die geasemde woorde van God, en daarom sy eie woorde, gevul met die openbaring van Homself en gefokus op Hom en die verlossingsplan in sy Seun. Daarom, waar die Woord van God gepreek en uiteglê word, is God self aan die woord, besig om Homself bekend te maak.
Die Ontluikende kerk is lê soveel klem op die “missionale” werk van die kerk, wat niks anders is as ‘n social gospel nie. Dit bring nie ewige verandering nie, want dit bied nie die reddende Woord van God aan ‘n verloregaande wêreld nie.
Die Kerk van Christus HET die waarheid, die HET die Woord van God, dit HET die mandaat om dit te predik en te leer, dit HET die gesag van Christus, en daarom MAG die Kerk NIE toelaat dat die wêreld hom keer om sy roeping om God se Reddende Woord te proklameer nie. Dink so daaraan: die Woord het vlees geword, met ander woorde wat opgeteken was deur die eeue oor die reddende genade van God, het toe mens geword in Christus en die profesieë oor Hom en sy eerste koms reeds 100% vervul. Dit is Hy wat die inhoud van die verkondigde Woord is, en daarom het dit krag tot redding vir elkeen wat glo.
Mag die Kerk van God weer ‘n hart kry vir die Woord, en gebeur wat in Esra en Nehemia se tyd gebeur het:
“het die hele volk soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die HERE Israel beveel het, te bring. En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand. En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig.
En Esra, die skrifgeleerde, het op ‘n houtverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het, en langs hom het aan sy regterhand gestaan: Mattítja en Sema en Anája en Uría en Hilkía en Maäséja; en aan sy linkerhand: Pedája en Mísael en Malkía en Hasum en Hasbaddána, Sagaría, Mesúllam. En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk, want hy het bokant die hele volk gestaan; en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan. En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe. En Jésua en Bani en Serébja, Jamin, Akkub, Sábbetai, Hodía, Maäséja, Kelíta, Asárja, Jósabad, Hanan, Pelája en die Leviete het die volk in die wet onderrig, onderwyl die volk op hulle plek bly staan. En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is. Daarop het Nehemía—hy was die goewerneur—en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die HERE julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor.” (Nehemia 8:1-9)
Ons kerkleiers, geestelike bedienaars, predikante, pastore, my pleitgebed is, keer terug na God se Woord. Bedien dit weer met nuwe ywer. Moenie dat kultuur die maatstaf word nie, maar eerder God se lewende Woord. Die wêreld het dit nodig, die kerk het dit nodig.