Dit gons behoorlik in kerklike kringe oor die impak wat die sg. “Ontluikende Kerk” of te wel “Emerging Church” op die hoofstroom kerk het. Die aanvanklike reaksie van dié wat behoudend wil wees wissel van skok, na woede, na ontnugtering, na traak-my-nie-agtigheid. Dit is selfs op so ‘n punt dat daar by sommige klanke van kerkskeuring is. Ek het self deur baie van hierdie emosies gedraf en toe stop ek by hierdie een gedagte wat my bring by hierdie blog. Almal fokus so op die negatiewe van hierdie beweging, maar ons het nodig om God te dank dat Hy dit toelaat. En hier is die redes hoekom ek Hom dank:
- Ek dank God oor die ontluikendes, want daardeur bevestig Hy die waarheid van Sy eie Woord. Dit voorspel / profeteer immers dat in die laaste dae valse leeraars na vore sal kom en Sy kerk sal infiltreer met allerhande valse leringe wat “die skyn van godsdienstigheid sal hê”. Hoe bring hierdie beweging nie hierdie profesie in vervulling nie! Dit bevestig dat elke profetiese woord in die Skrif waar en eg is. Die geraas wat hierdie vrydenkendes maak, bewys dit.
- Ek dank God vir die ontluikendes, want daardeur kom ek weereens onder die indruk van my eie sondigheid en nodigheid van die verlossing wat slegs te vind is in die redding wat Hy deur Jesus bewerk het. Die ontluikendes ontken al meer die nodigheid van verlossing, bekering, wedergeboorte. Selfs die hel as plek waarheen dié wat Sy reddende genade verwerp sal gaan word afgewater. As ek na myself kyk, besef ek ek kan nie my eie redding bewerk nie. Net God kan my vrymaak van my sondigheid en rebelsheid.
- Ek dank God vir die ontluikendes, want daardeur besef ek net weer hoe belangrik dit is om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef, gelei deur die waarheid van sy Woord en leiding van sy Gees. Ek besef hoe maklik dit is om myself en my opinies, en selfs dié van ander en die wetenskap bo Hom te stel en myself so los te wikkel van die verantwoordelikheid om “in Hom te bly”.
- Ek dank God vir die ontluikendes, want daardeur het ek nuwe hoop en verwagting op die wederkom van Christus. Hy het toe opgestaan, want Sy Woord sê so; Hy sal weer kom, want Sy Woord sê so. Die ontluikendes probeer ‘n gemaklike pad vir my voorstel waar ek nou die koninkryk het en na niks meer hoef uit te sien nie. Ek roep saam met die ware kerk en saam met die Gees: “Kom Here Jesus”.
Die ontluikende kerk skep ‘n tameletjie vir die kerk, maar ek dink as ons ons gedagtes swaai oor die tameletjie, kan die ware kerk van Christus nie net ‘n tameletjie vir hulle wees nie, maar ‘n storm ontketen waardeur God sy kerk kragtig kan gebruik om in die wêreld die getuienis uit te leef van ware sondigheid, ware redding, ware vrymaking, ware hoop, ware liefde en ware geloof. Mag ons daarom nie vasval in ‘n geworstel en nuttelose stryery nie, maar mag ons deur God se genade hierdie beweging en dwaling trompop loop met Hom as ons Here en Leidsman.