In ‘n artikel getiteld Die 10 belangrikste dinge wat die NG Kerk moet doen, gee Prof. Nelus Niemandt sy gedagtes weer oor wat die NG Kerk moet doen in die volgende 10 jaar. Toegegee, dit is ‘n baie interessante vraag, en miskien is dit tog wel nodig om hierdie vraag op die tafel te sit. Hierna sit hy sy tien punte neer wat hy dink die kerk se top 10 take moet wees oor die volgende klompie jare. Tevergeefs het ek egter gehoop dat daar iets van die kerk in haar verhouding tot haar God, tot haar God se Woord en haar primêre opdrag in die wêreld sou wees. Helaas, ek moes teleurgesteld ontdek dat die kerk niks meer daarmee te make het nie!
Ek het ‘n vinnige soektog gedoen op die volgende woorde en hoeveel keer elkeen in Niemandt se artikel voorkom, want na my wete behoort hierdie begrippe tot die kern van wat die kerk behoort te wees. Die resultate is insiggewend:
|
|
Die enigste afleiding wat ek kan maak waarom hierdie sleutelbegrippe nie gebruik word nie, is dat Niemandt die aanname maak dat hierdie aspekte 100% teenwoordig en gesond is in die geledere van die NG Kerk. Behalwe vir die gevaar verbonde aan aannames, bewys die geweldige polemiek rondom dwalinge in die NG Kerk juis die teendeel. Daar is hoegenaamd nie konsensus oor hierdie aspekte nie. Op watter basis sal jy dan hierdie take uitvoer as jou eintlike fondament wankelrig is?
‘n Opsomming van die toekomstake, aldus Niemandt, sien soos volg daaruit:
-
Plant gemeentes vir die randfigure – volgens die model van die Anglikaanse Fresh Expressions (‘n vergestalting van die Emerging Teologie)
-
Kerk vir die stedeling / Stadskerk
-
Aanwending van die digitale netwerke om die “Evangelie te inkarneer in ’n Google-wêreld”
-
Teologiese opleiding gefokus op “missionale entrepreneurs” gefokus op “gemeenskapsontwikkeling”. Die klem moet volgens hom wees op “innovasie, kreatiwiteit, die kunste en ’n grondige verstaan van ons hedendaagse kultuur”
-
Ekoteologie, gerig op die hantering van die aarde
-
Help sin maak in veranderende tye
-
Armoede verligting
-
Fokus op jeug
-
Kerkstrukture
-
Belydenis van Belhar
Dit lyk vir my na ‘n baie besige tyd wat voorlê vir die NG Kerk indien hierdie items sou wees op die lys van “To Do’s”. Ek het wel ‘n paar opmerkings om te maak hieroor. Wat nogals voorop staan in hierdie lys is ‘n gefokusdheid op die kultuur. Kerke met ‘n eietydse karakter, sosiale netwerke, missionale entrepreneurs vir gemeenskapsontwikkeling, ens. verskuif myns insiens die klem weg van die primêre rol van die kerk, wat duidelik verwoord word in die Skrif. ‘n Paar verwysings hieroor is nodig:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19)
“So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.” (Lukas 24:46-49)
“Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.” (1 Timotheus 3:15)
“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,” (1 Petrus 2:9)
Hier is ‘n klompie belangrike aspekte waarop ons aandag moet val. Die kerk se rol in die wêreld is nooit gefokus op die kultuur nie, maar altyd op die geestelike welstand van die mens. Daarom die klem op die verkondigingstaak en die inhoud daarvan is niks anders nie as bekering en vergifnis van sonde. Dit is die voortsetting van die bediening van Christus. Lukas vertel dit vir ons:
“Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mattheus 4:17)
Jesus het nie gekom om die kultuur van sy tyd te verander nie. Hy het gekom om die ewige bestemming van die mens te verander en sy kerk is uitgeroep uit die wêreld – nie om weer daarheen terug te keer nie, maar om besig te wees daarmee om ander, soos met hulle gedoen is, te vertel van die vergifnis van sonde wat volg op bekering tot die Seun van God. KULTUUR IS NIE BEHOEFTIG AAN VERLOSSING NIE, DIE MENS IS!
Hierdie taak mag nie opgeneem word buite om God Drie-enig nie. Ons Here se opdrag is duidelik. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is aldrie so deel van die taak van die kerk, dat dit nie ongemerk mag verbygaan nie. Niemandt verwys nie een keer na enige verbintenis van die kerk aan haar Here nie. Nou kan die argument wees dat dit te veronderstel is wanneer daar van kerk gepraat word. En tog is dit nie die waarheid nie. Die kerk kan so verword dat daar geen verbintenis meer is aan haar Here nie. Dink maar aan die voorbeeld van Sardis, die besige, maar dood in sonde kerk (Openbaring 3). Daardie gemeente was een wat haar Hoof verlaat het en agter die wêreld aangestrompel het sonder die impak wat die kerk moet hê.
Die teenwoordigheid van die valse teologie van die moderne, liberale bewegings, maak dit uiters moeilik om die kerk aan God Drie-enig te verbind, want hoe verwoord jy so ‘n verhouding met soveel wyd-uiteenlopende standpunte.
Die kerk moet die geredde geestelik toerus en versorg en help groei in die waarheid. Is dit nie wat Jesus bedoel het met “leer hulle” nie en waarna Paulus verwys as hy die kerk ‘n “pilaar en grondslag van die waarheid” noem nie? En waarop is dit gebou? Duidelik kom die Woord van God aan die orde. Geen kerk kan bestaan en haarself kerk noem as die Woord van God en die leerstellings daarvan nie aan die basis daarvan lê nie.
Niemandt verwys vlietend na die Bybel se heenwysings na armoede verligting. Dit is nie genoeg om ‘n kerk te anker in haar rol en stryd in hierdie sondige wêreld nie. God se Woord in sy totaliteit moet die basis wees met ‘n sterk fokus op die suiwer leer wat daaruit na vore kom. Ongelukkig het die liberale teologie die leerstellings van die kerk gekaap vir hul eie sinnelose doelwitte. Die maagdelike geboorte van Christus, sy fisiese opstanding, sy hemelvaart, die sonde, die oordeel van ‘n regverdige God, hemel, hel, die Skepping as die werk van die Skepper, en so kan ons voortgaan. Leerstellings wat aan die basis lê van die kerk en haar identiteit word deur die liberale teoloë verwater tot wetenskaplik onmoontlikes. Wat bly daar dan oor vir die kerk om haarself mee besig te hou as al hierdie leerstellings verander word in leringe van mense? Al wat oorbly is ‘n kerk in naam, wat geen verbintenis meer het met God Drie-enig nie en wat aan die kultuur oorgegee is.
Dit hang natuurlik saam met ‘n beskouing van God se Woord. As dit nie meer God se Woord is nie, is daar niks meer om aan gehoorsaam te wees en geen verantwoording meer teenoor die God van sy Woord nie. So ‘n kerk sal dan ook nie meer die Woord proklameer nie, maar missionaal gefokus raak op die sosiale welsyn van die kerk.
Ek sien in Niemandt se takies geen oproep aan die kerk tot ‘n verbintenis aan haar God nie, geen toewyding aan Sy Woord nie, geen soeke na sy reddende genade vir mense wat binne ‘n kultuur (re) verlore gaan in hulle sonde nie, geen oproep aan die mense van die land om hulle te bekeer tot die lewende God en ‘n oproep tot die kerk om bekering en vergifnis te verkondig nie!
‘n Interessante insluiting is dié oor Belhar se belydenis. Die aard en geskiedenis van hierdie bevrydingsdokument is nie nou op die tafel nie (alhoewel kommerwekkend). Wat wel ter sake is, is die insluiting van ‘n “geloofsbelydenis” deur iemand wat self die dogma aan die agterspeen laat suig en wat is ‘n belydenisskrif ander. Verwys maar na die artikel Nelus Niemandt beveel Alternatiewe Leefstyl aan hieroor. ‘n Verdere punt is dat hy moderator was van die Algemene Sinode van 2011 wat die besluit deurgevoer het oor die Bediening van Bevryding. Die besluit oor die persoon van die duiwel gaan lynreg in teen die huidige belydenisskrifte in die NG Kerk. Waarom sou jy dan nou, terwyl jy jou bestaandes minag, ‘n ander een voorstaan. Is dit dalk omdat die sosialistiese gedagtes van Belhar se belydenis so reg in die kraal van ‘n missionale bediening is wat nie gefokus is op redding van die mens van sy sondigheid en gevolglike lering en toerusting in die waarheid van die Woord van God nie, maar op gemeenskapsontwikkeling? Iets strook nie indien ons moet dink aan konsekwentheid nie.
Die vraag is nie watter tien dinge op die lysie moet kom nie, maar:
IS DIE NG KERK GOD SE KERK OF KULTUUR SE KLERK?
Indien eersgenoemde, roep dan die werkers op om die waarheid van die Evangelie van Christus te proklameer in afhanklike verbintenis aan God Drie-Enig. Dit is wat op die agenda moet wees vir die kerk oor die volgende 10 / 20 / 100 jaar. Nie allerhande foefies om die kerk besig te hou nie. Dit beteken hoegenaamd nie verkramptheid nie, want God is lewe en waar Hy werk is daar lewe en krag en vernuwing.