Drie-eenheid

Inleidend

Is Jesus God? Vir gelowiges behoort hierdie vraag ‘n maklike antwoord te hê, maar hierdie aanname blyk nie in alle gevalle waar te wees nie. Ons sal verstaan as die ongelowige wêreld hiermee ‘n probleem het. Dit is immers verregaande dat ‘n mens ook ‘n god kan wees, en natuurlik ook andersom. Dit is dus geen verassing wanneer ongelowiges hierdie die Christendom se aanspraak op die godheid van Christus bevraagteken, aanval en selfs probeer bespot.

Natuurlik help ons gevorderde leefwyse nie baie nie. Met die ontwikkeling in nuwe tegnologie en die klaarblyklike vermoë om dinge vandag te verklaar wat die skrywers in die vroeë eeue nie kon nie, is daar ‘n groot dryf om geestelike dinge meer op die agtergrond te skuif as om te soek na antwoorde. Immers, tegnologiese ontwikkelinge bied klaar al die nodige antwoorde. Meer is nie werklik nodig nie. Aldus die ongelowige wêreld.

Ongelukkig is daar ook diegene binne die kring van gelowiges wat hiermee ‘n probleem het. Hierdie vertwyfeling kan natuurlik wees vanaf die persoon wat twyfel en worstel om by die waarheid te kom, tot by die selfvoldane teoloog wat prontuit verklaar dat Jesus nie God is of was of ooit sal wees nie. Hoe hy / sy Jesus ook al beskou, daar is nie ruimte dat Jesus God kan wees nie.

Baie oplossings is al hiervoor gegee. Jesus was ‘n profeet, of Hy is ‘n goeie voorbeeld van goeie mens. Daar is selfs ‘n skeiding gemaak tussen die historiese Jesus (wat net ‘n normale mens was) en die geestelike Jesus (die een wat die vroeë kerk ontwerp het om geestelike antwoorde te gee). Met die ontwikkeling in taalkunde en letterkunde, is daar natuurlik ook die studie van mites en fabels en is die Bybelse verhale oor Christus hiervolgens geanaliseer. Die Evangelies is veral onder hierdie mikroskoop geplaas en groot dele is slegs as mites geklassifiseer. Ook is daar ‘n benadering wat voet by stuk hou dat Jesus as mens self effe onseker was oor sy eie identiteit. Die sogenaamde Messiaanse geheim verklaar dit. Daarom het Jesus sy dissipels vermaan om nie sy identiteit bekend te maak nie, aangesien Hy self nie heeltemal so seker was oor sy eie identiteit en posisie nie.

Maak dit saak?

Die vraag is natuurlik of dit enigsins saak maak dat Jesus God is. Nog meer, hoekom maak dit saak? Is dit nie maar net nodig om vas te hou aan die feit dat Jesus ‘n uitstekende voorbeeld van morele en sosiaal aanvaarbare optrede is nie? Of dat Hy wel ‘n prominente stem vir God se saak is? Instemming dat Hy God is behoort tog seker nie so ‘n prominente rol te speel in ons geloofswandel nie?

Indien Jesus nie God is nie, het ons ‘n probleem met ons redding. Verlossing rus in sy diepste wortels daarin dat dit nie uit ‘n mens of deur ‘n mens moontlik is nie. Die rede hiervoor is die mens se inherente sondige natuur. Sondigheid kan nie sondigheid verwyder nie. Verlorenheid kan nie verlorenheid omkeer nie. Dit is alleen moontlik deur iemand wat sondeloos is. Indien ons Jesus se godheid ontken, laat dit ons alleen met sy mensheid en diskwalifiseer dit Hom onmiddelik om redding moontlik te maak.

Dit het reuse implikasies. Ons kan dan nie meer op Hom vertrou om ons van ons sonde te verlos nie. Verder beteken dit dat alle verwysing in die Bybel na Hom as ons redder is net mooi literêre gedagtes, taalkundige meganismes of geestelike taal om ons te laat goed voel oor onsself. Dit los ons met ‘n geweldige probleem wat ons ewige bestemming betref. Die hemel as die ewige bestemming vir die verlostes maak skielik glad nie meer sin nie. So ook nie die hel vir die wat in sonde vasgevang is nie. Dit sal in alle geval almal moet wees, want niemand sal kan vrykom van hulle sondigheid nie. Verder maak dit die Bybelse boodskap tot niet. Die Bybel moet dan gereduseer word tot ‘n oppervlakkige verduideliking van verlossing en ‘n boek oor morele waardes. Die Skrif se gesag word so verflou tot ‘n boek vol sedelesse waar Jesus die beste voorbeeld vir ‘n goeie lewe is.

Dit behoort duidelik te wees hoe redding baie nou afhanklik is van Jesus se godheid. Dit is nie sonder rede dat die Bybel sê “verlossing behoort aan die Here” nie. Dit is omdat verlossing nie aan ‘n mens behoort nie. Die sondige mens ontvang redding van die God wat die outeur is daarvan. As mens moes Jesus in hierdie wêreld inkom om as God volkome redding te bewerk. Soos Gabriël dit so duidelik aan Josef gestel het:

… dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. (Matteus 1:21).

Wat volgende?

In die lig van hierdie belangrike belydenis oor Christus, wil ek na ‘n paar plekke / oomblikke / gebeure in die Bybel kyk wat duidelik vir ons wys dat Jesus nie sommer maar net ‘n mens was nie, maar 100% God is. Uit die aard van die saak kan ons nie direk met Jesus praat hieroor asof ons Hom in ‘n onderhoud kan ondervra nie. Die Bybel is gelukkig duidelik genoeg sodat ons tot klinkklare gevolgtrekkings kan kom oor hierdie saak.

Kyk dus gerus uit vir die volgende plasing waarin ek hierdie tema so ‘n bietjie verder ondersoek en bespreek.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *