Liewe broeders en susters in Christus

Ons vra verskoning dat ons die afgelope paar maande nie van ons laat hoor het nie.

In hierdie brief wil ons ‘n bietjie nader kyk na ‘n paar sake wat in die laaste paar maande heelwat mediadekking gekry het, nl. die groot aantal lidmate wat die afgelope twee jaar die Ned Geref Kerk verlaat het, en ‘n beskrywingspunt wat later vanjaar aandag sal geniet by die volgende Algemene Sinode.

1.      50 000 lidmate verlaat die Ned. Geref. Kerk

Uit die aard van die saak moes die kerk ‘n verklaring gee oor die moontlike redes vir hierdie uiters tragiese toestand en daar was dan ook spoedige reaksie van die kerkleiding. In die Kerkbode van 18  Januarie 2013 word gesê: “As ‘n kerk krimp is dit nie net slegte nuus nie”1. Volgens  prof. Nelus Niemandt skep ‘n kleiner kerk nuwe moontlikhede om nuut te dink oor kerkwees, en verder sê hy: “Baie mense wat kerklos raak verkies om hulle spiritualiteit op ‘n ander manier uit te leef”.1  In die hoofartikel van dieselfde Kerkbode word sekularisasie, emigrasie, en laer geboortesyfers as redes bygevoeg. Ook in die volgende Kerkbode van 1 Februarie 2013 word die aangeleentheid in ‘n volbladartikel deur Nelus Niemandt behandel. Hy noem 6 ‘strome’ (redes) nl. dalende geboortesyfers, demografie, post-modernistiese geloof, sekularisasie en die groei van Charismatiese kerke.2

Wat ‘n mens egter mis in al die bogenoemde verduidelikings is ‘n ernstige kommer oor die situasie en die amper gelate aanvaarding daarvan. Is dit nie eerder nodig om dringend hand in eie boesem te steek en eerlike vrae te vra oor moontlike Bybelse redes vir die tragiese toestand in ons kerk nie?

In ‘n brief aan die Kerkbode spreek dr Samuel Louw,van die  NG Gemeente Eendracht, egter van die diepere redes aan wanneer hy onder meer skryf: “…Ons vind dit jammer dat die “kerklike leiding” (sinodes en predikante) dikwels voeling met lidmate verloor het. Dit kan gesien word in die feit dat kerklike vergaderings (en ook kerkleiers in hulle uitlatings) “polities korrek” probeer wees, en dat die heersende tydgees telkens ’n té groot invloed het.

Die gees van verdraagsaamheid lei daartoe dat sinodes besluite neem wat só akkommoderend probeer wees dat ’n duidelike en eenvoudige standpunt nie ingeneem word nie. Dit lei tot verwarring, ontsteltenis en teleurstelling onder baie lojale lidmate.

Vir ons is daar sekere kernwaarhede in ons geloof waaroor daar geen onduidelikheid behoort te wees nie, en waaraan ons gelowig vashou. Dit sluit in: Dat God die Skepper is; dat die huwelik ’n Goddelike instelling is; dat Jesus Christus God se Seun is en daarom die enigste Middelaar; dat Christus werklik uit die dood opgestaan en so die dood oorwin het; dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is.

Dit is ons gebed dat die kerk getrou aan die Here en sy Woord sal bly. En of die kerk dan sal groei óf sal kwyn, is nie in ons hande nie.”

Ons stem saam met dr. Louw en glo vas dat een van die heel belangrikste redes vir die dalende lidmaattal die onsekere, tegemoetkomende en selfs onbybelse besluite is wat deur die Sinode in 2011 geneem is.

As voorbeeld wil ons die besluit wat oor die duiwel  geneem is, noem. Die besluit lui as volg: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”3

Ons, en baie ander, het duidelik aangetoon dat, volgens die Bybel,  die duiwel ‘n persoonlike werklikheid is en dat ons dus nie die besluit van die sinode kan aanvaar nie.

Wyle prof. JA Heyns het as volg oor die duiwel geskryf: “Satan, die heerser in die ryk (Ef 2:2; 2 Kor 4:4; Joh 14:30, 12:31, 16:11) is volgens die Skrif nie ‘n blote abstraksie, simbool of selfs personifikasie nie, maar ‘n konkrete persoonlikheid, toegerus met rede en wil, geestelik en dus a-somaties.”4)

‘n Ander  baie insiggewende artikel  deur dr. Wynand Louw verdien ook ons aandag (Ter wille van diegene wat nie toegang het tot ‘n rekenaar nie, plaas ek die hele artikel.)

Onder die opskrif ‘Waarom verlaat mense die kerk?’, skryf hy: Die NG Kerk het in die afgelope twee jaar amper 50 000 lidmate verloor. Volgens gerugte het Dr Kobus Gerber beweer dat ‘n belangrike rede is dat die NG Kerk “nie meer rassisme duld nie.” Prof Nelus Niemandt is meer pragmaties: Daar is verskeie redes daarvoor: Afname in geboortes, emigrasie en algemene sekularisasie van die bevolking.

Tog ken dié van ons wat op voetsoolvlak in kerke betrokke is almal mense wat die kerk verlaat het omdat hulle ontevrede is met die manier van evangelieverkondiging, die inhoud (of inderdaad die gebrek aan inhoud) van prediking of ‘n algemene onvermoë van die NG Kerk om in mense se geestelike behoeftes te voorsien. Watter persentasie mense verlaat die kerk om godsdienstige redes?

Dit is moeilik om te bepaal. Daar is egter ‘n voorbeeld in Amerika wat ons kerkleiers se aandag behoort te trek.

Rob Bell van die Mars Hill-kerk in Seattle het ‘n tydjie gelede opslae gemaak met sy boek “Love wins”, waarin hy die bestaan van die hel verwerp het. Vir die wat sy boeke en Nooma- video’s gevolg het, was dit nie nuus nie – Hy het al vir ‘n tyd lank subtiel panenteïsme verkondig. Die hel is ‘n logiese onmoontlikheid in panenteïsme.

Maar vir baie van sy gemeentelede het die bom eers gebars met sy stelling dat die hel nie bestaan nie. En 3000 mense het sy kerk verlaat, direk as gevolg van sy dwaalteologie.

“Bell told The New Yorker that the publication of his book resulted in a 3,000-person decrease in membership at Mars Hill Bible Church, which he founded in 1999. ‘The book put pressure on the people around Bell, who found themselves having to defend statements they might never have heard, let alone approved. Congregants reported that friends and family members were asking why they were allowing themselves to be led by a false teacher’, the magazine continues.”

Dit klink vir my baie soortgelyk aan die bom wat die Algemene Sinode van 2011 laat bars het deur te beweer dat mens nie in die bestaan van die duiwel hoef te glo nie.”

As ons kerkleiers aanhou viool speel terwyl die kerk brand, sal die gevolge die NG Kerk onberekenbare skade aandoen.”5

2. Beskrywingspunt oor Gay
 

Daar bestaan geen twyfel dat die homoseksuele gemeenskap nie sal rus voordat hulle in alle opsigte aan hulle gekose leefstyl uiting kan gee nie. Hulle wil trou, kinders hê en ten volle aanvaar word deur die kerk.

Die afgelope paar weke het daar weereens van kerklike kant groot ondersteuning vir hulle saak gekom. Eers was dit dr. Chris Jones, ‘n teoloog van Stellenbosch, wat ‘n pleidooi lewer dat Gays nie net.op die kansel toegelaat moet word nie, maar dat hulle ook nie selibaat hoef te bly nie. Hy beskou die eis om selibaat te bly as ‘n tragiese ‘plus’ naas die geloof. Hy skryf:

“In die geval van gelegitimeerde gay proponente is die “plus” wat vereis word dat hulle selibaat sal leef – watter vreemde gedagte“.  Hy sê vervolgens: “Dit is tyd dat die NG Kerkfamilie en ander Protestantse kerke die teologiese uitdaging van homoseksualiteit aanvaar en etiese leiding neem ter wille van God se koninkryk en gays se waardigheid.”.6

Op die 9de Februarie word ‘n dubbele blad in die bylaag van ‘Die Burger’ aan Laurie Gaum gewy. Die titel is ‘Ghoeroe van wondbaarheid’, waarin daar met groot deernis oor hom gepraat word, nie slegs oor die kanker wat by hom gediagnoseer is (hiervoor is daar natuurlik groot begrip en meegevoel), maar ook oor die seer wat hy, as praktiserende gay,  moes deurmaak. Hy kry amper heldestatus wanneer daar van hom gesê word dat ‘hy ‘n kringloop voltooi (het) – van NG predikant tot aktivis vir gay-regte en ghoeroe vir ‘n nuwe teologie van weerloosheid’.

Selfs die  feit dat hy wegbeweeg het van die verlossende genade in Christus Jesus blyk heel aanvaarbaar te wees. Laurie sê: “Daar is verskillende verlossingsmodelle. Die een waaraan ons gewoond is  die juridiese model……Maar dit is maar net een van die verlossingsmodelle en jy moet eerder kyk na van die ander modelle vir ons tyd. Die Franciskane en die Ortodokse tradisies lê byvoorbeeld groter klem op skepping-spiritualiteit en die kreatiewe energie van God wat skep en seën en sê: ‘Dit is goed’” 7

‘n Paar weke na Jones se artikel versoek dr. Frits Gaum, sy seun Laurie en 24 ander  in ‘n brief aan die Moderatuur van die Wes-Kaap se Sinode, dat Gays toegelaat moet word as leraars en ‘…dat die voorwaarde van selibaatheid laat vaar moet word.’8

“Die NG Kerk se algemene sinode gaan gevra word om die groen lig vir permanente gay- verhoudings en vir gay-predikante te gee.  Die kerk se Wes-Kaapse moderatuur het besluit om so ’n voorstel van 26 lidmate deur te stuur met die versoek dat die algemene sinode duidelike leiding oor die saak moet gee9

Die Moderatuur het dié versoek ontvang en ook deurgestuur na die Algemene Sinode.

Die hele homoseksuele aangeleentheid word nou baie duidelik op die spits gedryf en die Algemene Sinode sal DV in Oktober uitspraak moet gee. Ongelukkig is die besluite wat reeds in die verlede geneem is, van so ‘n aard dat dit nou vir die Sinode uiters moeilik sal wees om nie ook aan hierdie versoek te voldoen nie.

Ons roep u op om voor die Here te pleit dat Hy ons geliefde kerk genadig sal wees en dat Hy kragdadig sal ingryp en die Ned Geref Kerk sal laat omdraai van sy huidige pad van afvalligheid.

Met vriendelike groete

Danie du Plessis (namens Kaapse Studiegroep)

Verwysings

1. Kerkbode. 18 Januarie 2013. Voorblad en bl. 6
2. Kerkbode, 1 Februarie 2013, bl 9
3. Kerkbode,  15 Februarie 2013 Briewekolom bl 17. Lees ook prof Johan Janse van Rensburg
    se brief: ‘Dalende lidmaatgeta lle’ in die Kerkbode van 1 Februarie 2013
4. ‘Dogmatiek’  Prof JA Heyns.  bl 166
5.  http://hierstaanek.com   Maandag 4 Februarie 2013
6.  ‘By’, die Burger. 19 Januarie 2013 
7.  ‘By’, Die Burger.  9 Februarie 2013
8.   Die Beeld.  13 Februarie 2013. Vgl ook ‘Die Kerkbode’ 13 Februarie

Sien ook

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *