Liewe broers en susters

Een van die sake wat genoem is in die verklaring wat die Kaapse Studiegroep in April vanjaar opgestel het, en waaroor ons glo die Algemene Sinode verkeerde besluite geneem het, is Homoseks.

Ons het gevoel dat dit belangrik is om, in die lig van wat die Woord van God ons oor Homoseks leer, iets op skrif te stel wat u miskien nuttig kan gebruik in u eie Bybestudie of in groepsverband.

Ons beplan om die onderwerp in drie kort studies te behandel; eerstens , ‘Die Bybel en Homoseks’; tweedens, ‘Die Bybel en die huwelik’ en derdens, ‘Pastorale bediening  en homoseks’ –

 STUDIESTUK OOR HOMOSEKS

In ons sekulêre samelewing word Homoseksualiteit al meer as ‘n normale, alternatiewe leefstyl aanvaar. Dit wil voorkom asof ons aan ‘n georkestreerde sagmaakproses blootgestel is. Die wat glo homeseks is verkeerd, word getipeer as homofobiese, fundamentalistiese dwepers wat nie tred hou met die werklikheid nie.

Die kerk is ook beïnvloed deur die geleidelike verandering in die verstaan van  homoseks. Baie Christene is verward en onseker oor wat hulle moet glo. Ons vertrou dat die gesaghebbende Woord van God ons groter duidelikheid sal gee oor wat die Heilige God ons in Sy Woord leer.

DIE BYBEL EN HOMOSEKS

1.       GENESIS 19: 1 – 11

Die sleutel tot die verstaan van hierdie teks is die betekenis van die woordjie ‘ken’.

Vs 4 en 5 “Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: ‘Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.”

Letterlik staan daar dat ons hulle kan “ken”. In die 1983 vertaling word dit weergegee as: “Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.”

Tradisioneel was daar nog altyd eenstemmigheid oor die betekenis van die woordjie ‘ken’, as ‘n verwysing na die seksdaad maar deesdae word pogings aangewend om ander betekenisse aan die woord te gee, bv. historikus John Boswell van Yale beweer dat die mense van Sodom maar net met die besoekers ‘kennis wou maak’( Boswell 1980: 107-117).

Ander beweer dat die mense van Sodom met die besoekers kennis wou maak met die doel om vas te stel of hulle nie miskien spioene is nie. (“Homosexuality and the Western Christian Tradition”, Bailey 1955: 38)  Esegiël 16:49 word aangehaal as bewys van die feit dat die groot sonde van Sodom die gebrek aan gasvryheid was. Sodom se sonde sou dan wees dat hulle hul maatskaplike verantwoordelikheid t.o.v. die armes en behoeftiges nie nagekom het nie. Hierdie argument gaan nie op nie, want vers 50 maak dit duidelik dat hulle nie net skuldig was aan ongevoeligheid jeens armes nie, maar dat hulle  “…voor(die Here) se oë afskuwelike dinge gedoen het.”

Verwerping van alternatiewe verstaan van  Genesis 19.1 – 11

Die grond waarop die nuwe, liberale verstaan van wat in Sodom gebeur het, verwerp word, is die volgende:

1.1. Sodom was skuldig aan gruwelike sonde (Gen. 18.20).  Wat in Genesis 19 plaasvind was geen geïsoleerde oortreding  nie; trouens, die hele stad – oud en jonk – was skuldig. Die feit dat daar in die stad nie eers 10 regverdiges gevind kon word nie, bevestig die omvattende aard van hul sonde.

1.2. Al dui die woord ‘ken’ nie altyd op die seksdaad nie, is dit tog duidelik uit Lot se antwoord in vers 7 en 8 dat hy goed verstaan het wat hulle wou hê – niks minder as homoseksuele gemeenskap met die besoekers  (“Nee, vriende!.Moenie so ’n verkeerde ding doen nie. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met  ’n man gehad nie.Ek sal hulle na julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil”)

1.3. Daar is geen Skrifbewys dat God ooit ‘n stad of nasie uitgewis het bloot omdat hulle nie goeie maniere gehad het nie.  Judas vers 7 bevestig dat die mense van Sodom en Gomorra  gestraf is omdat hulle “…onsedelike dade gepleeg (het) en omgang gesoek het met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.”

2.    Levitikus 18. 22 en Lev. 20.13

Lev.18.22Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.”

Lev.20.13:  Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde’. Hulle moet doodgemaak word.”

Alhoewel dit uit die tekste duidelik is dat die Here homoseksuele gemeenskap veroordeel, is daar sommige wat beweer dat wat hier ter sprake is, is die oortreding van seremoniële reinigingswette. Hierdie bewering word gestaaf omdat ander seremoniële wette in dieselfde verband genoem word bv. in vers 8, waar dit ‘n man verbied word om met ‘n vrou wat menstrueer, gemeenskap te hê.

Verwerping van alternatiewe verstaan van  Lev. 18.22 en Lev. 20.13

Wanneer op die hele verband van Levitikus gelet word, is dit duidelik dat die Here sy volk voorberei vir die beloofde land en hulle wil waarsku  teen die perverse seksuele gedrag van die Kanaäniete, en dat Hy hulle daaroor sou uitwis. Spesifieke sondes word op die naam genoem:  8.6 – 19 Seks binne familieverband; 8.19 Omgang met menstruerende vrou; 8.20 Egbreuk; 8.21 Kinderoffers;  8.22 Homoseksuele dade wat as afstootlike sonde beskryf word; 8.22 Gemeenskap met diere.

Dit is belangrik om daarop te let dat egbreuk (20.10), kinderoffers (20. 1-5), homoseks (20.13) en seks met diere (20.15-16) spesifiek in Levitikus 20 genoem word as sondes wat die doodstraf verdien.  Die doodstraf word nie voorgeskryf vir die oortreding van seremoniële wette nie.

3.   Die Nuwe Testament

Jesus het nooit spesifiek na die sonde van homoseks verwys nie, want Hy het eerder op die kern van sonde gelet – die sondige aard van die hart en die wil van die mens. Teenoor die Fariseërs wat die klem op die uiterlike laat val, het Hy na die innerlike bron van sonde verwys,

bv. Matteus 15: 17-20 : Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie? Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie”.

In Lukas 17.29 verwys Hy wel na Sodom  maar in algemene terme:

“Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal uitgewis.”

4   . Romeine 1.26-27 “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.”

Hierdie Skrifgedeelte is seker die heel duidelikste bewysdat homoseks sonde is.

In John Murray se kommentaar: “The Epistle to the Romans” lees ons: “Here we are for the first time informed of the specific type of vice which the apostle had in mind when he referred to ‘uncleanness, that their bodies should be dishonored among themselves’ (vs. 24) and to ‘passions of dishonor’ (vs. 26a). At least, he defines what he had in mind as the most aggravated forms of uncleanness and vile passion. It is apparent that what is in view here and in verse 27 is the homosexual abomination.’ (Murray, 1959: 47).

Vandag is daar egter pogings om te bewys dat Paulus nie homoseks as sodanig veroordeel nie, maar dat daar minstens drie ander maniere is om die teks te interpreteer:

4.1  ‘Natuurlik’ en ‘onnatuurlik’moet verstaan word as dit wat vir jou , met jou eie ‘seksuele orieëntering’,  natuurlik of onnatuurlik is. Bv. As jy as heteroseksueel is en jy pleeg ’n homoseksuele daad, dan is dit onnatuurlik en daarom verkeerd. Ook omgekeerd.

4.2  Ander beweer dat Paulus, omdat hy kind van sy tyd was, nie bewus was dat, weens psigologiese en ander invloede, ’n mens as homoseksuele gebore kan word nie. Weens onkunde het Paulus daarom alle homoseks oor een kam geskeer en as ’n perversiteit gesien. Paulus se veroordeling is dus, in die lig van moderne wetenskaplike kennis, irrelevant.

4.3  Paulus veroordeel, volgens ’n ander mening,die erotiese verhouding tussen ’n jong man en ’n seuntjie en nie homseks tussen instemmende volwassenes nie

Verwerping van die alternatiewe verstaan van Romeine 1. 26-27

Eerstens, nêrens in Griekse of Joodse literatuur word ‘natuurlik’ of ‘teen-natuurlik’  verstaan as dit wat vir ’n spesifieke indiwidu  ‘natuurlik’ of ‘teen-natuurlik’ is nie, d.w.s. as ‘oriëntasie’nie.  Die begrippe kan alleen verstaan word as dít wat of vír of téén die skeppingsordinansie is.

Tweedens, om te argumenteer dat die terme so verstaan moet word dat dit vir ’n spesifieke indiwidu geld, maak die pad oop om te vra : ‘Wie besluit wat is natuurlik en wat nie’? Kan ’n verkragter of pedofiel dan nie beweer dat sy afskuwelike dade ‘natuurlik’ vir hom is nie? Wat ‘natuurlik’is, kan alleenlik deur God gedefinieër word en dit is hoe Paulus die woorde in Romeine verstaan.

Derdens, om die teks ’n ‘nuwe’ betekenis te wil gee, is om die verband waarin dit verskyn te ignoreer. Paulus praat oor die universele verskynsel van die sonde en van die genadige verlossingsboodskap in Christus. Romeine 3.23:  “Almal het gesondig en is vêr van God af”.

In Romeine 1.18 praat Paulus spesifiek van die sondes van die nie-Jode wat God verwerp en eerder die skepsel as die Skepper dien. (vers 25). Die gevolg is dat God hulle oorgee aan skandelike drifte.

Stuart Olyatt se kommentaar is: ‘They become enslaved to their own ungodly desires, and reap the consequences. The things which they have chosen have evil effects, and so they themselves become revoltingly degraded’ (Olyatt, 1979:  13).

Paulus se veroordeling van homoseks moet binne die verband waarin dit verskyn verstaan word.  By Paulus  is daar geen twyfel  dat die natuurlike verwys  na God se skepping in Genesis 1 en 2.

Homoseks is om die ‘natuurlike’en God-gegewe te verander en die onnatuurlike en  God-onterende. te beoefen (verse 24-28)

Verder is dit ook duidelik dat daar geen gronde is om te beweer dat ‘ wat vir my natuurlik is, is nie noodwendig ook vir jou natuurlik nie’. Vers 27 maak dit glashelder: “Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte na mekaar” Hier is geen sprake van ‘seksuele orientasie ‘ nie.

Die gedagte dat Paulus sou verwys na skandelike dade tussen mans en seuntjies hou ook nie steek nie, want Paulus praat van ‘mans met mans’( vers 27)

5   I Korintiërs 6:9-10  Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?
Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”

1 Kor 6:9-10 is nog ‘n teks waaraan sommige nuwe betekenis wil gee.

Paulus is besig om oor die noodsaaklikheid van kerklike dissipline aan die gemeente te skryf. In die lig van groot probleme maak Paulus dit baie duidelik dat onder diegene wat nie in die koninkryk van God sal kom nie, tel die malakoi (manlike prostitute, wellustelinge) en die arsenokoitai, (homseksuele oortreders en sodomiete). In Engels lees vers 9: “Neither the sexually immoral nor idolaters nor adulterers nor male prostitutes nor homosexual offenders will inherit the kingdom of God.”)

Daar word nou beweer dat Paulus nie homoseks as sodanig veroordeel nie, maar eerder die misbruik van homoseks. Die vergelyking van alkohol word gebruik – dit is geoorloof om te drink, maar nie om drank te misbruik nie. Hierdie argument is vergesog

SLOTSOM

Alhoewel ‘pro-gay’-interpretasies van die tekste waarna gekyk is deur baie aanvaar word, is die oorweldigende getuienis van Bybelkenners dat die Skrif homoseks veroordeel.

‘After a comprehensive, non-polemical survey of the evidence, Peter Coleman concludes that if we ask what the biblical writers actually meant, the answer is clear. They intended to put a ban on all homosexual behaviour’(Field)

______________________________________________________________________________________________________________________

Hierdie studiestuk is ’n opsomming van: ‘..Homosexuality – Natural or Unnatural?’ deur Dr Errol Wagner. Dié volledige boekie, sowel as Ds. Willem Louw se baie deeglike studiestuk van die Sinodale besluite oor Homoseks, en een deur Dr Kobus Stapelberg, kan hieronder afgelaai word.

Danie du Plessis (Sek. Kaapse Studiegroep)

Epos:[email protected]

Tel. 021 855 2391
Sel ++27 72 726 6018

 

Laai die volgende pdf lêers af:

Die NG Kerk se besluit oor Homoseks

Maak God Mense Gay?

Homosexuality – Natural or Unnatural?
 

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *