Liewe Broers en Susters,

Die lidmate van die NG Kerk het die onderlinge ooreenkoms dat hulle die Skrif in die lig van die Drie Formuliere van Eenheid verstaan.

Daar is deesdae baie verskillende interpretasies van die Heilige Skrif.   Daarteenoor verklaar lidmate van die NG Kerk met hulle geloofsbelydenis dat hulle die Woord van God glo soos dit in die belydenisskrifte bely word.   Leraars bevestig dit boonop tydens hulle legitimasie met hulle handtekening.   Wanneer leraars nou die belydenisskrifte die rug toekeer, lei dit tot talle vrae in die gemoed.   So byvoorbeeld, is dit eties te regverdig dat lidmate van die kerk die traktement van leraars moet betaal wat die belydenisskrifte nie meer aanvaar nie?   Is sulke leraars inderdaad nog lidmate van die NG Kerk of het hulle hul lidmaatskap deur hulle optrede, neergelê?   Maak dié leraars hulle nie aan kerkskeuring skuldig deurdat hulle nie meer soos die res van die kerk glo nie?   Dit is jammer dat die toestand in die kerk dié vlak bereik het, maar daar is lidmate in die kerk wat diep ongelukkig is oor nuwe praktyke wat in die gemeentes ingevoer, nuwe verklarings wat aan ou Skrif waarhede gegee word en selfs besluite wat deur meerdere vergaderings geneem word.

Waaraan daar tans ‘n dringende behoefte bestaan, is voorbidding vir die kerk met haar leraars en lidmate.   Daarom kom ons met die oproep tot u om vir die kerk te bid.   Laat ons die Koning van die kerk in ootmoed nader en Hom om Sy genade smeek sodat ons waarlik kerk sal wees, soos Hy in Sy Woord voorskryf dat dit moet wees.   Laat ons sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees, draers van die evangelieboodskap van verlossing deur Jesus Christus ons Here.

Miskien is dit tyd dat ons die Drie Formuliere ook weer nader trek om die skoonheid van ons belydenis opnuut te waardeer.   Hoe pragtig beskryf die eerste antwoord van die Heidelbergse Kategismus nie ons enigste troos in lewe en in sterwe nie:  Ek behoort aan my getroue Saligmaker Jesus Christus.   En hoe duidelik word die wedergeboorte deur die kragtige werking van die Heilige Gees nie in paragraaf 11 van die derde en vierde leerstukke van die Dordtse Leerreëls beskryf nie:  Hy maak die hart wat gesluit is, oop;  wat hard is, maak Hy sag;  Hy besny wat onbesny is.   Hy stort nuwe hoedanighede in die wil  en maak dit lewendig.

Mag die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilig Gees u deel wees.

Sien ook

Kaapse Studiegroep Verklaring
Kaapse Studiegroep Opvolgbrief 24 April 2012 
Kaapse Studiegroep Omsendbrief 7 Mei 2012

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *