Hierdie baie belangrike vraag, is die titel van ‘n artikel van Rob Visser in Vrye Gereformeerde Studies no. 5.   Die vraag is dus:  Kan ‘n mens die skeppingsverhaal letterlik en histories verstaan?

Visser haal vervolgens ‘n berig in  Beeld (5 Mei 1999) aan waarin beweer word dat Ruda Landman op ‘n buitengewone sinode van die N.G. Kerk, gesê het: “Ons glo nie meer aan Jona in die walvis nie, ons glo nie meer aan Adam en Eva nie, letterlik nie.” Hierop reageer Prof. Fanie Snyman van die Vrystaatse Universiteit:  “Die soort vrae wat Landman stel, het lankal aandag gekry in die wetenskaplike studie van die Ou Testament.   Ou Testamentici is bv. lank reeds eens dat Genesis 1 – 11 nie ‘n eksakte historiese gebeure beskryf nie” (Beeld 6 Mei 1999)

In koerante en Die Kerkbode stel etlike teoloë van die NG Kerk dit dan ook onomwonde dat Genesis 1 tot 11 nie histories beskou kan word nie.   F. Deist praat in die 1989 uitgawe van die C.B. Powel Bybelsentrum van ‘n filosofiese verhaal.   Die hoof van Bybelmedia sê in By van 29-11-2008:  “… die ontdekking van ‘n stukkie hout van die ark is totale bog.   Dit is om te sê jy het die hok gevind waarin Hansie en Grietjie was… Enige Bybelse verhaal voor die tyd van Abraham het geen geskiedkundige grondslag nie.

Visser bewys die teendeel deur na Genesis 4 en 5 , 1 Kronieke 1:1, Job 31:33, Hosea 6:7, Lukas 3:38, Romeine  5:14, 1 Korintiërs 15:22,45, 2 Korintiërs 11.3, 1 Timotheus 2:13, 14, Judas 14 te verwys waar Adam of Eva by name vermeld word. (Ou Vertaling)

Romeine 5:14 is in hierdie verband belangrik waar daar staan “…die dood geheers van Adam af tot op Moses.”   Volgens Visser sou dit vreemd wees om ‘n fiktiewe persoon met ‘n historiese persoon te verbind.   Visser verwys veral na 1 Korintiërs 15:45 wanneer hy skryf:  “Paulus wil hier beklemtoon dat die mens waarvan Genesis 2:7 praat … die eerste mens was … Die Heilige Gees wys hier dat Adam die eerste historiese mens was.”   ‘n Mens kan ook Handelinge 17:26 in hierdie verband lees.

Visser maak enkele gevolgtrekkings.   As gevolg van die bostaande waar gesê word dat Skepping en sondeval nie meer as historiese gebeurtenisse onderskei kan word nie, word die historisiteit van die tydperk van sondeloosheid en volkome vrede op aarde geloën.   God se goeie skepping was volgens hierdie siening nie werklik goed nie, selfs nie beter as die huidige situasie nie.

Verder, die Nuwe Testament verwys 165 keer na Genesis 1 tot 11.   Dit word as historiese gebeure beskryf.   As Adam nie histories bestaan het nie, is daar geen enkele rede om Christus as ‘n historiese Persoon te beskou nie.   Die erns van die sonde word dus nie ingesien nie.

Ek haal ook uit W.H. Griffith Thomas D.D. se kommentaar oor Genesis aan:  “Is it hardly too much to say that this chapter (Genesis 3) is die pivot of the Bible, for if we take it away, the rest of Scripture becomes meaningless.   With the exception of the fact of creation, we have here the record of the most important and far-reaching event in the world’s history – the entrance of sin.”

Ook Edward J Young stem saam:  “The interpretation of the third chapter of Gen. is crucial for one’s understanding of the Bible and the Christian gospel.”  Hy verwys ook na Romeine 16:20 as vervulling van Genesis 3:15 en sê:  ”with this verse (Genesis 3:15) we are introduced to the plan of salvation.”

Visser kom tot die volgende slotsom:  ”Wie nie aan Adam en Eva glo nie, is besig om die hele leer van God se Woord te verwring.   Hy is besig om ‘n eie evangelie te maak en in sy eie evangelie te glo.   Die glo aan Adam en Eva soos dit in Genesis 1-5 en in die res van die Bybel beskryf word, is ‘n noodsaaklikheid.   Eerbied vir die Here en die waarheid vra dit van ons en van enige mens.   Die kerk mag nie toelaat dat dit in die kerk geloën word nie.

Mag die Here Hom oor ons land en mense ontferm en dat werklik teen Skrifkritiek gestry word en in diepe eerbied en liefde vir die Here se Woord aan die opbou van werklike Gereformeerde Teologie gewerk word.   “Here, gee ons daartoe die moed en krag deur U Gees.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *