Oorsprong

Grieksparousia (παρουσία); Latynsadventus, “om te kom”

Kategorie

Kerklik

Beskrywing

Die Latynse adventus is die vertaling van die Griekse parousia, wat eintlik verwys na die wederkoms van Christus. Daarom, al is die fokus tydens Advens op die geboorte (inkarnasie) van Christus, is daar ook die verwagting na sy tweede koms.

Die tydperk herdenk die eerste koms van Christus (Johannes 1:14), met ander woorde sy geboorte (Lukas 2) sowel as die belofte van sy 2de koms. Dit begin op die vierde Sondag voor Kersdag (25 Desember), gewoonlik die Sondag naaste aan die 30ste November, en eindig die nag van die 24ste Desember.

Advent is dan ook die begin van die Westerse Kerk se liturgiese jaar (kerkjaar). In die Oosters Ortodokse Kerk is Advens ‘n tydperk van 40 dae wat begin die 15de November.

Aanvanklik was daar min konneksie met Kersfees. Gedurende die 4de en 5de eeue n.C. was dit ‘n tyd van voorbereiding van nuwe dopelinge tydens die Fees van Epifanie in Januarie. Hierdie was ‘n 40 dae tyd gekenmerk deur vas, gebed en verootmoediging.

Tydens die 6de eeu het die Roomse Christene die klem laat val op die tweede koms van Christus en eers in die Middeleeue het die direkte konneksie met die geboorte van Christus gekom.

In sommige Christelike tradisies word die tydperk geken deur sekere rituele en gebruike, soos bv. die brand van kerse, die gebruik van kleur (veral pers) en sekere advensliedere. Tipies is daar ‘n kers vir elke Sondag tydens die tydperk van Advens.

Die Advens het tegelyk ‘n herinnering (die historiese) en ‘n hoop (die toekomstige) daarin opgesluit. Dit dink terug aan die bedenklike situasie waarin die mens hom bevind vanweë sy boosheid en sonde (Romeine 1-3). Dit bring die bewustheid van nood en die behoefte aan uitkoms. Hier herinner die Advens verder aan die goedheid en genade van God deurdat Hy Christus in die wêreld gestuur het om juis op hierdie moeilike situasie te antwoord (Hebreërs 2:18). Dit bring hoop, naamlik die verwagting van Christus wat ‘n 2de keer sal kom (parousia), hierdie keer as Regter van die wêreld om permanente herstel te bring en regverdig te oordeel oor dié wat deur hulle boosheid ander in ellende gedompel het.

Dietrich Bonhoeffer het hieroor gesê:

“The celebration of Advent is possible only to those who are troubled in soul, who know themselves to be poor and imperfect, and who look forward to something greater to come.”

Tussen die historiese werklikheid en die eskatologiese verwagting is daar ‘n wagtydperk, en hierdie wag is ‘n belangrike aspek van Advens. Daarom word Advens gekenmerk deur geduldige afwagting..

Bronne

Verwant

Inkarnasie, Liturgiese Jaar (Kerkjaar), Parousia

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *