Oorsprong: Griekse deuteros, “tweede” + Giekse kanon, “reël” = “tweede kanon”
Hierdie geskrifte was deel van die Griekse vertaling van die Ou Testament maar nie deel van die Hebreeuse Ou Testament nie. Hierdie boeke word Deuterokanoniek genoem aangesien sekere van die kerkvaders hulle gesag in twyfel getrek het en hulle eers later as “kanoniek” aanvaar is. Dié geskrifte wat standaard as kanoniek aanvaar is, staan dan bekend as die protokanonieke boeke.
Hierdie geskrifte is ingesluit in die Latynse Vulgaat en is deur die Christendom gebruik totdat hulle gesag weer deur die Reformasie, en dan spesifiek Martin Luther, betwyfel is. Gevolglik is hulle deur die Protestantse Christene verwerp, maar die Roomse en Ortodokse groeperinge het dit steeds aanvaar as deel van die boeke wat goddelike gesag dra.
Vandag is daar onder Protestantse kerke tog ‘n groter aanvaarding van die waarde, maar nie die gesag nie, van hierdie dokumente, en sien ons gereeld dat hulle ingesluit word in die sogenaamde Protestantse bybelvertalings.