Oorsprong: Grieks ex, “uit” + hēgeisthai, “uitlei” = “om uit le lei”
Die interpretasie metode wat poog om die teks in sy oorspronklike grammatiese en historiese konteks te verstaan. Die oogmerk is om die betekenis van die oorspronklike outeur aan sy oorspronklike gehoor te ontdek.
Die teks word vanuit verskeie hoeke benader, onder andere sosiologiese, godsdienstige en kulturele agtergrond, ens. Die tekskritiek word ook gereeld ingespan om verskeie variante van en binne die teks te verreken. Verder word ook gekyk na die letterkundige genres, taalgebruik en die wyse hoe taal aangewend word in die teks voorhande. Die grammatika en sintaks van die taal speel ook ‘n belangrike rol.
Dit moet onderskei word van ander uitleg metodes, byvoorbeeld allegorie en eisegese. Dit poog ook om so ver moontlik objektief na die data oor en van die teks te kyk en nie te verval in subjektiewe interpretasie nie.
Die toepassing van die teks kan eers gedoen word nadat die volle roete gevolg is, naamlik 1) wat sê die teks, 2) wat beteken die teks, 2) hoe korreleer dit met die res van die geskrif en die Bybel in sy geheel. Eers dan kan die toepassing in die huidige konteks bepaal word.