Oorsprong

Grieks – leitouria, “werk van die mense” + “jaar”

Kategorie

Kerklik

Beskrywing

Dit word ook genoem die “Kerkjaar”. Die liturgiese jaar behels die siklus van liturgiese seisoene in sekere kerkgroeperinge. So word die 365 dae van die jaar georganiseer rondom hierdie seisoene. Dit bepaal watter feesdae onderhou moet word, watter skrifgedeeltes voorgelees moet word. Elke liturgiese seisoen word van die ander onderskei in terme van teologiese betekenis, gebede en fokus en Skriflesings. Die onderskeie seisoene kan onder andere ook voorgestel word met verskillende kleure om die bepaalde betekenis van daardie seisoen te beklemtoon.

Hierdie siklusse is daarop gemik om die gelowiges te laat reflekteer op die lewe en werke van Jesus Christus en so hulle geloof in Hom as Here en Verlosser te verdiep. Dit is belangrik om te weet die Skrif het geen formele opdragte oor die Liturgie of die Liturgiese jaar nie. Nogtans is dit ‘n eeue-oue gebruik onder kerkgroeperinge, sommige meer as ander.

Die Liturgiese jaar wentel veral rondom die volgende groot gebeure in die lewe van Christus:

1. Sy geboorte.
2. Sy verskyning aan die wêreld.
3. Sy lyding, dood en opstanding.
4. Die stuur van die Heilige Gees.

In die lig hiervan, word die jaarlikse siklus soos volg ingedeel, veral in die Rooms Katolieke tradisie:

Advens – ‘n 4-week tydperk in voorbereiding op Kersfees. Dit fokus op hoop, verwagting, en die koms van Christus. Dit behels nie alleen sy eerste koms (inkarnasie) nie, maar ook sy wederkoms (parousia). In sommige tradisies word die kleure pers of blou gebruik. Dit simboliseer verootmoediging en verwagting. Die derde Sondag gebruik rooskleur.
Kersfees – ‘n 12-dae viering van die geboorte van Jesus. Gewoonlik begin dit 25 Desember en eindig voor die 6de Januarie wanneer die Epifanie begin. Wit (simbolies van vreugde en reinheid) of goue (simbolies van koningskap) kleure word hier gebruik.
– Die Epifanie – Die viering van die verskyning van Jesus aan die wêreld. Dit is ‘n 1-dag viering en vind gewoonlik plaas op die 6de Januarie. Wit en goue kleure word ook hier gebruik. Hierdie tydperk lei ook die Fees van die Doop van Christus in.
Lent – ‘n 6-week (of 40-dae) periode van verootmoediging en voorbereiding voor Paasfees. Dit begin gewoonlik op “As-Woensdag” (Ash Wednesday) en duur tot en met die sg. Heilige Donderdag of die Heilige Saterdag. Omdat Sondae die opstanding van Jesus vier, word Lent gedurende hierdie tyd slegs gevier vanaf Maandag tot Saterdag. Die 40 dae korelleer met die tyd wat Christus in die Woestyn moes deurbring en waartydens Hy deur die duiwel versoek is. Vanweë die fokus op verootmoediging, is dit vanselfsprekend dat pers ‘n prominente kleur tydens hierdie tyd sal wees. Die tyd word ook gekenmerk deur gebed, vas en die gee van aalmoese.
Die Heilige Week wat eindig in die Paas Triduum – die begin met Palmsondag en bou op tot die Paas Triduum, die 3dae van die Heilige Donderdag (die Laaste Maaltyd van Christus met sy dissipels), Goeie Vrydag (die kruisiging) en die Heilige Saterdag (dag van refleksie en afwagting). Die fokus is op die lyding, dood en opstanding van Christus. Prominente kleure is rooi (veral Palmsondag en Goeie Vrydag en verteenwoordig die dood en bloed), wit vir die Heilige Donderdag (Maundy Thursday) en swart (of geen kleur nie) vir die Heilige Saterdag.
Paasfees – ‘n 50-dae tydperk van vreugde. Dit begin op Paassondag en eindig op Pinkstersondag. Wit en goud word met hierdie tyd geassosieer.
Pinkster – 50 dae na Paasfees en dit vier die koms van die Heilge Gees, wat ook die geboorte van die kerk aandui. Rooi word tydens hierdie tyd gebruik om die Heilige Gees en vuur te simboliseer.
Gewone Tyd – dit is die oorblywende dae van die jaar en word in twee seksies verdeel: na die Epifanie tot As-Woensdag en na Paasfees tot Advens. Gewoonlik fokus hierdie tyd op die werk en leringe van Jesus. Groen, simbolies van groei, word hiermee geassosieer.

Die affiniteit van die Rooms Katolieke en Oosterse Kerke vir liturgiese inkleding, maak dat hulle ook streng by die liturgiese jaar hou. Hierteenoor hanteer die Protestante die Liturgiese jaar vryer met minder seremonie en mistieke elemente betrokke. Die Pinkster- en Charismatiese tradisies distansieer hulle gewoonlik van hierdie gebruike as dat dit “rigied en onbybels” is en so die vryheid van die Heilige Gees aan bande lê.

Alhoewel sommige Protestantse kerke die liturgiese jaar in breë trekke volg, word dele uitgesny waarmee daar teologiese verskille is, onder andere die feeste ter ere aan Maria en die heiliges.

Die skets toon die Liturgiese jaar en seisoene van die Rooms Katolieke Kerk:

Liturgiese Jaar

Bronne

Verwant

Advens, Liturgie, As-Woensdag, Parousia, Paas Triduum, Lydensweek, Palmsondag, Pinksterfees, Kerklike Tradisies