Oorsprong: Latyn sola, “alleen” + Christus = “Christus alleen”

Teen die tyd van die Reformasie was die Roomse Kerk baie sterk onder die bewind van die Pous en sy lakeie. Hulle het hierdie beweging streng beheer met ‘n ystervuis. Enigiemand wat hulle sou opponeer, was verhoor en bes moontlik ter dood veroordeel – wat natuurlik verbranding op die brandstapel beteken het.

Hierdie beheer het natuurlik ‘n diepgewortelde teologiese motivering gehad, naamlik dat die Pous die aardse verteenwoordiger van Christus is, met ander woorde, hy was beklee met dieselfde gesag en bevoegdhede as wat Christus op aarde gehad het. Hierdie oortuiging is natuurlik geregverdig uit Jesus se uitspraak teenoor Petrus in Mattheus 16:18 dat “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou.” Vir die Rooms Katolieke verwys die rots na Petrus, omdat die Griekse term hier petros, ook gebruik is vir Petrus se naam. Die leer van apostoliese suksessie het hier sy oorsprong. Dit sou later jare, nadat Konstantyn die Christendom tot staatsgodsiens verklaar het sy kop uitsteek en die Pousdom en die tirannie en dwalinge daarmee saam tot gevolg hê.

Hiervolgens het die Pous en die kerk die mag tot byvoorbeeld absolusie van sonde. Dus het die leierskap in die kerk verword tot ‘n wyse om van sonde ontslae te raak en so die verlossing te ontvang.

Verder was daar die oortuiging dat Maria, die moeder van Jesus, ook as middelaar tussen mens en Christus kon optree. Natuurlik was dit voorgehou dat sy nie die effek van die “erfsonde” geken het nie, en daarom was sy perfek vir die rol as “Moeder van God”. Hierdie leer sou later verder uitgebrei word.

Die sakramente van die kerk is dan ook gesien as middele waardeur die mens by God kan uitkom. Natuurlik moet ons dit sien dat alles uit die Bybel gefundeer is, sodat die gewone mens daarby moet inkoop as die waarheid volgens die Skrifte.

Al hierdie aspekte (nog meer kan genoem word, maar dit is buite die bestek van hierdie artikel) het ontwikkel as wyses waarop die mens in sy soeke na God en die ewige lewe by God kon uitkom. Daar was dus afgewyk van die direkte woorde van Jesus Christus, naamlik “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Die apostels het dieselfde oortuiging gehad toe hulle oor Christus die volgende bely het:

 

“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Handelinge 4:12)

 

Die Reformasie het hierdie belangrike momente weer onderstreep. Redding is in niemand en niks anders te vind as in Jesus Christus die opgestane Here nie. Die implikasies hiervan was groot. Hiermee het hulle verklaar dat die Pous en sy biskoppe, die kerk, die Sakramente, selfs nie Maria nie, en ook nie die mens in sy sogenaamde vryheid van keuse nie, en daarmee ook geen ander eksterne of interne saak of ding, die mag en vermoë het om die nodige verlossing waarvan die Skrif so duidelik praat te bewerk nie. Alleen Christus! Hiermee is alles onttroon wat enigsins geroem het om die mens se redding te verseker.

Natuurlik is daar, soos by al die ander Solas, ‘n paar kern belangrike vrae om hierby in te trek.

  • Aan watter kwalifikasies voldoen Jesus Christus om uitgelig te word as die enigste weg tot verlossing?

  • Die genoegsaamheid van Christus

  • Die implikasies vir diegene wat verlossing buite om Jesus Christus soek

  • Hoe effektief is die verlossing wat Christus bied?

Hierdie is maar ‘n paar vrae wat op die voorgrond tree wanneer ons Solus Christus bely. Dit lê natuurlik aan die basies van ‘n teologies suiwer Christologie en Soteriologie. Indien dit vervang sou word, word die hele verlossingsdaad in gedrang gebring en moet daar gesoek na alternatiewe wyses van verlossing. Die stemme raak al meer en harder om die grense te verskuif. Die keerwalle word voortdurend gebombardeer met die ammunisie van die vyand om tog maar net te aanvaar dat daar ander wyses tot redding is.

Natuurlik maak die die Christendom eksklusief wat betref die beskouing van die weg tot ware verlossing! Die antwoord van die Reformasie, in hul terugval op die Skrif se waarheid, is dat redding en vryheid en vrede nie in iets te vinde is nie, maar in Iemand, en daardie Iemand is ten volle genoegsaam om die volheid van God se verlossing te bied aan dié wat sal bely dat Christus, die Here en God, die Enigste Offer, die Paaslam is, wat gekom het om die sonde van die wêreld op Hom te neem. 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *