Liewe broeders en susters
Die berig hieronder verskyn in die jongste Kerkbode.
Soos verwag is dit nie ‘n getroue weergawe van die verklaring of van my telfoniese gesprek met Jean Oosthuizen nie. Ek wys op die volgende:
- Die Verklaring was nie ‘n Beswaarskrif nie maar ‘n verklaring
- Ek het duidelik aan Jean gestel dat ons verklaring nie gemik is op die gemeente Helderberg nie en dat slegs twee van ons groep lidmate van Helderberg is. Die doel was tog om, in die lig van gebeure in die Ned Geref Kerk, duidelik standpunt in te neem vir die waarheid van die Woord Dit wil voorkom asof Jean die indruk wil skep dat die verklaring ontstaan het as gevolg van ‘n aksie wat ek teen Helderberg het
- Die groep staan nie onder my leiding nie
Ek sal dit op prys stel as daar van julle sal wees wat sal reageer deur aan die Kerkbode te skryf en julle eie verstaan van die verklaring duidelik sal maak
Ons Sowereine Here sal ook hierdie Kerkbode berig kan gebruik tot eer van Sy Naam
In Sy diens
Danie
KAAPSTAD. – ’n Groep afgetrede NG leraars in die noordelike voorstede van Kaapstad en in die Somerset-Wes- en Strand-omgewing is ontevrede met die koers wat die kerk inslaan. Hulle verlang
onder meer terug na die dae toe die kerk sy lidmate getug het.
Die groep bestaan hoofsaaklik uit afgetrede leraars wat gereeld bymekaarkom.
In ’n beswaarskrif wat onder lidmate versprei word, sê die groep hulle “verwerp die modewoorde ‘ruimte maak’ en ‘diversiteit’” en soortgelyke terme wat gebruik word om die Bybelse boodskap “af te water en kragteloos te maak”. Hulle is ook ontevrede oor sekere sinodebesluite oor homoseksualiteit,
die bestaan van die persoon van die duiwel en die “dwaling van saambly” voor die huwelik.
Die groep staan onder leiding van ds Danie du Plessis, wat tot onlangs betrokke was by die NG Gemeente Helderberg in Somerset-Wes.
“Ons spreek ons ten sterkste uit teen die grootskaalse ignorering van die tug in die kerk en veral die ‘ruimte’ wat gelaat word vir dosente aan Teologiese Fakulteite, hooggeplaaste amptenare en andere om te verkondig wat hulle wil sonder vrees dat hulle getug sal word.”
Die Helderberg-gemeente se leierleraar,ds Hannes Theron, het aan Kerkbode gesê Helderberg-gemeente se kerkraad en leraarspan het net een begeerte en dit is om “die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – in alles sentraal te stel”. Ds Theron sê die leraars wat die beswaarskrif onderteken het, is welkom om met die kerkraad oor hulle besware te kom gesels en saam te besin
oor hoe die drie-enige God meer sentraal geplaas kan word in alles wat die gemeente doen en is.
Ds Theron wou nie kommentaar lewer oor die gemeente se standpunt ten opsigte van diversiteit, homoseksualiteit en kerklike tug nie. Hy het aan Kerkbode gesê die kerkraad volstaan met sy verklaring.
Ds Du Plessis het aan Kerkbode gesê hy meen dit is eintlik die kerkraad se plig om die groep te nader. Hy sê hy het agt jaar met die kerkraad probeer gesprek voer toe hy by die gemeente betrokke was. Hy meen wel die groep sal in die lig van ds Theron se uitnodiging,dit oorweeg om met die Helderberg-gemeente se kerkraad in gesprek te tree.