Openbaring 3:1-6

 1 En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.  2 Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie.  3 Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.  4 Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.  5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.  6 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. 

 

Die brief aan Sardis is die vyfde in die reeks van sewe. Hierdie brief het ‘n heel ander karakter as die res van die briewe. Die normale gang van die briewe identifiseer Christus Homself spesifiek tot die gemeente, daarna volg ‘n gedeelte van prys waarin Hy een of meer positiewe eienskap oor die gemeente uitlig en hulle daarvoor prys. Dit word, behalwe in die gevalle van Smirna en Filadelfia, gevolg met ‘n woord van afkeur oor een of meer verkeerdhede in die gemeente. Daar is gewoonlik die vermaning tot bekering gevolg deur die bemoediging van oorwinning – weereens spesifiek afgestem op die gemeente situasie.

Hierdie brief aan Sardis wyk af van hierdie standaard patroon, daarin dat daar niks goeds van hierdie gemeente gesê word nie. Uit die staanspoor is die Here Jesus duidelik in sy beoordeling van die gemeente:

Jy [het] die naam dat jy leef en jy is dood (vers 1).

Hierdie is seker die moeilikste woorde om te hoor, veral as jou gemeente so besig is dat dit in naam lewe. Ons leer hier ‘n belangrike les oor kerkwees, naamlik dat dit heeltemal moontlik is om ‘n uiterlike skyn van geestelikheid te hê, terwyl die kerk in sy wese so dood is soos ‘n lamppaal. Die Griekse term vir dood kom van die stamwoord wat beteken “lyk”. Sardis was dus geestelik gesproke ‘n lyk wat uiterlik so mooi opgemaak is om lewe na te maak.

Hierdie gemeente het in skrille kontras gestaan teenoor dié in Smirna. Daar was fisiese dood en vervolging op die voorstoep van die gemeente, maar dit was vol lewe. Lees maar die baie verwysings na lewe in die brief aan Smirna. Hier is dit anders. Lewe in naam, dood in werklikheid!

Waarin was die probleem vir die gemeente in Sardis? ‘n Sleutel tot die verstaan hiervan lê in die wyse hoedat Christus Homself bekendstel in vers 1:

Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.

Hy stel Homself hier bekend as die Een wat twee belangrike dinge besit. Die eerste is die sewe Geeste van God. Hierdie is niks anders nie as ‘n verwysing na die volheid van die Gees van God as die derde persoon in die Goddelike Drie-Eenheid. In 1:4-5 is daar die seëngroet wat die Drie-Eenheid volledig uitbeeld:

Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde!

Ons sien dus hier die Heilige Gees as die sewe Geeste van God. Dit moet nie verstaan word as sewe geeste nie. Die Heilige Gees is Een, maar hier word verwys na sy volheid. Dit kan terug verwys na Jesaja 11:2 waar die Gees van God in sy sewe-voudige volheid op die beloofde Messias sou wees:

en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.

Dit kan ook terugverwys na Sagaria 4:10

Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe—die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop—met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?

wat weer ter sprake kom in Openbaring 4:5 en 5:6 met verwysing na die Heilige Gees.

Die tweede in sy besit is die sewe sterre. Hy identifiseer die sewe sterre in 1:20 as die leiers in die gemeente. 

Hy bied Homself dus aan as die Een wat, as Soewereine Hoof van sy Liggaam, aan die kerk die twee gawes gee, naamlik die Gees in sy volheid en geestelike leierskap. Die toestand in Sardis is uitdrukking daarvan dat beide hierdie aspekte nie meer realiteit was nie. Dit is nie te sê dat daar die leierskap was nie, maar leierskap wat nie uitgeoefen word onder die lewende en lewendmakende leiding en heerskappy van die Gees van God nie, is dood. Geen besige program kan hierdie twee aspekte van kerkwees vervang nie. Let net daarop dat hier geen probleem van dwaling was wat nodig was om aan te spreek nie; hier was ook geen nodigheid vir vervolging nie. Hierdie kerk was doodeenvoudig besig dood (of is dit dood besig).

Dit is natuurlik ‘n geweldige waarskuwing aan die kerk in ons eeu wat so geneig is om te luister na die leierskap van die kultuur en sosio-politiese konteks. Die sogenaamde “seeker-sensitive” kerk van die postmoderne en Ontluikende bewegings. Niemand kan die geweldige bemarikingsgedrewe inslag van die kerk die afgelope klompie dekades ontken nie. Die een program na die ander word aangebied om lewe in die gemeentes in te blaas. Kerke het begin kies om te luister na die “behoeftes” van die lidmate. Die kerk word almeer bedryf as ‘n besigheid.

Smirna staan as ‘n waarskuwing in die geskiedenis. Daar was baie beweging in die gemeente, anders sou hulle nie die naam gehad het dat hulle lewe nie. Tog, as gevolg van die wegbeweeg van die lewe wat slegs die Gees van God kan gee, het die geestelike leiers toegelaat dat besige programme die kerk gekenmerk het, eerder as ‘n noue verhouding met Hom wat die Heilige Gees en die leierskap gee.

Hierdie is tweede aspekte wat enige gemeente moet soek en behoort te koester. Geestelike leiers wat sensitief is vir die rigting wat Christus met die gemeente wil inslaan onder die lewendmakende leiding van die Gees van God. Christus se vermaning aan die gemeente in Smirna is duidelik:

Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou (vers 3).

Daar is min bekend oor die ontstaan van die kerk in Smirna. Handelinge 19:10 sê vir ons die bediening van Paulus in Efese het soveel vrug gehad dat die Evangelie die hele Asië bereik het. Ons weet dat Efese ‘n gemeente was wat sterk gebou was op die leer van die apostels (Openbaring 2:1-7) en geestelike leierskap (Paulus se briewe aan Timotheus lê sterk klem op beide die bevegting van dwaling en instel van goddelike leiers). Hierdie selfde dryfkrag sou ook uitgaan na die gemeente in Smirna.

Wat sê Christus dus vir hulle is die oplossing? Herstel julle tot daar waar julle vandaan kom. Kom weer terug op die punt waar julle die leer van die apostels hoog ag en goddelike leiers weer die pas aangee. Dus, in praktiese terme, maak die Woord van God weer sentraal in julle midde en maak seker dat die leiers wat die Woord aan julle bedien, juis dit doen en nie een of ander halgebakte skeefgetrekte idee daarvan nie. Dit is wat die kerk lewend maak. Nie bemarkingsfoefies nie. ‘n Daadwerklike bediening en gehoorsaamheid aan die Woord van God onder leiding van Geesvervulde leiers. 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *