Hierdie groepsbespreking was deel van die byeenkoms van die Kaapse Studiegroep oor die Belydenisse en spesifiek die Heidelbergse Kategismus. Die tema van hierdie bespreking was as volg: Ons aanvaar die belydenisskrifte omdat hulle met die Bybel ooreenstem. Mag ‘n mens dan die maagdelike geboorte van Jesus ontken in die lig van Sondag 14?

 

1. Nee, Sondag 14 van die Heidelbergse Kategismus laat iemand wat dit as belydenisskrif aanvaar, nie toe om die maagdelike geboorte van Jesus te ontken nie.

2. Die Skrif leer dat Jesus inderdaad die Seun van God is, soos die Vader volgens Matteus 3:16 en 17 met Jesus se doop bevestig het.   As Hy deur die toedoen van ‘n man gebore sou wees, sou Hy nie die Seun van God gewees het nie.   So bely die Kategismus dat Hy Sy menslike natuur van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het.

3. Ons aanvaar die getuienis van Petrus in 2 Petrus 1:21 dat die woorde van mense onder invloed en beheer van die Heilige Gees uitgespreek is en later op skrif gestel is, soos ons dit in die Bybel het.   Daarvolgens het ‘n engel aan Maria verskyn en aan haar gesê dat die Heilige Gees oor haar sou kom en dat die kind wat sy sou hê, die Seun van God sou wees.

4. Volgens die profesieë sou die Messias uit die geslag van Dawid wees.   Jesus moes dus ‘n nakomeling van Dawid wees en so is Hy uit die maagd Maria gebore, wat self ‘n nakomeling van Dawid was.

5. Jesus kon nie ‘n aardse pa gehad het nie, want dan sou Hy nie vir die sonde van die mens kon betaal nie.   Om vir ons sonde te betaal, moes Hy God wees om so die straf van die dood te ondergaan en die dood met Sy opstanding te oorwin.   Derhalwe is Hy uit die maagd Maria gebore deur die werking van die Heilige Gees, soos ons in die woorde van die Heidelbergse Kategismus bely.

6. In die lig van bostaande, vorm die maagdelike geboorte van ons Here Jesus Christus die basis vir die evangelie wat leer dat Hy lank voor ons geboorte aan die kruis vir al ons sonde volkome betaal het en ons versoening bewerk het.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *