In Efesiërs 4:14 kry ons hierdie beskrywing van mense wat vasgevang is in dwaalleer:
sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;
In ‘n vorige artikel het ek verwys na die mens se vermoë om te volg. Dit is verbysterend hoe ontvanklik die mens kan wees vir die asemrowende bog wat party mense kan opdis van podiums en kansels af. Kyk jy byvoorbeeld na die massas wat by byeenkomste van vals leraars opdaag en daaraan meedoen en die lering glo, laat dit jou totaal verbysterd oor hierdie invloed wat hulle uitoefen op hulle volgers. Hoe is dit moontlik dat soveel mense so konstant deur soveel dwaling vasgevang kan word?
Nou is daar verseker ‘n klomp redes wat ons kan uitwys: die krag van misleiding; die soeke na sensasie; massa manipulasie; oneredheid; die vervulling van profesieë, om maar ‘n paar te noem. Tog dink ek ons kyk baie keer ‘n kardinale faktor mis, wetend of onwetend. Ons is soms so erg gefokus op die regstelling van waarheid en dwaling, dat ons hierdie faktor miskyk.
Verstaan mooi, nie almal wat in daardie massas so agter die wolwe aangaan, is gered nie. Die Skrif is hieroor duidelik dat nie almal wat vir Hom se Here, Here die koninkryk sal ontvang nie. Die evangelie wat by baie van hierdie plekke verkondig word, is in elk geval ‘n ander evangelie, met ‘n ander Jesus, so mense kom nie by die God van die Skrif, by Jesus die Redder uit nie, maar ‘n ander “Jesus”. Tog is daar gelowiges wat op ‘n stadium in hulle lewens deur dwaling meegesleur word en later in soveel geestelike chaos beland dat die pad tot herstel moeilik is.
Ons roep gelowiges met alle erns op om in die waarheid te staan, om op te staan vir die waarheid, maar soms is dit nie die regte plek om te begin nie. Ek dink die belangrike faktor wat ons so baie mis, maar wat vir Paulus voorop gestaan het, was om gelowiges te anker in die Here Jesus Christus. Om dit anders te stel, gelowiges moet geleer word om alles wat hulle dink en doen vanuit die nuwe lewe in en vanuit Christus te doen. Kyk wat skrywe Paulus net voor hierdie vers:
En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus (Efesiër 4:11-13).
Elders skrywe Paulus:
Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel (Kolossense 1:28).
en
deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie. (Kolossense 2:2-4)
Die Skrif is so duidelik. Om in ‘n wêreld waar dwaling aan die orde van die dag is te oorleef, is dit nodig om die gelowiges te lei tot volwassenheid in Christus (sonder dwaling is dit ook nodig). Gelowiges moet vanuit Christus lewe. Hy bring volwassenheid, Hy bring standvastigheid, Hy bring waarheid. Hierdie is alles eienskappe wat die gelowiges nodig het om op te staan teen walsheid en dwaling.
Ek wil my verstout om te sê dat waar ‘n gelowige prooi geval het vir dwaling, daar is ‘n verslapping in sy lewe vanuit Christus die oorsaak. Hoekom sê ek so? Want ek lees Paulus sê dat as die gelowige in Christus geanker is, en sy lewe vanuit die “skatte van wysheid en kennis” in Christus is, dan sal niemand hom / haar met drogredes verlei nie. Efesiërs 4:14 hierbo aangehaal gebruik die woord “kinders” om die geestelike toestand van dié wat soos golwe geslinger word te beskryf. Kinders is onvolwasse, dink aan hulleself en onverskillig, en maklik om te mislei.
Hoekom is dit so belangrik om volwasse te word in Christus? Want die Bybel sê ons moet wandel soos wat Hy gewandel het. Handelinge 17:28 sê “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons”. Hy bepaal ons verstaan en benadering tot die wêreld en alles daarin. In kort, ons wêreldbeeld word deur Hom gevorm. As ons dus nie in Hom geanker is nie, kan ons nie die beskouings van die dwaalleeraars toets teen dit wat ons in Christus het nie, en val ons voor die misleiding.
Darwin het ‘n valse beskouing van God as Skepper voorgehou en vandag is evolusie springlewendig in die kerk en baie gelowges hardloop agter dit aan as die waarheid oor die skepping. Homoseksualiteit is nog so voorbeeld. In Christus het ons ‘n ander uitkyk as die wêreld op seksuele reinheid en oriëntasie. Genesis 1 en 2 tref die onderskeid in geslag en die bedoeling van God daarmee. Om nie vanuit Christus te verstaan nie, is gevaarlik, want nou word homoseksualisme op die spits gedryf in die kerk en selfs as leiers aangestel.
Die infiltrasie van die Ontluikende teologie[1] is ‘n volgende voorbeeld van ‘n skeefgetrekte wêreldbeeld wat toegelaat word omdat die gelowiges in ons kerk nie meer die volwassenheid het om te onderskei nie. ‘n Ander Jesus word ingestoot in ons kerk en dit word aanvaar omdat ons teoloë dit akademies bevorder en onderskrywe en talle kinders van die Here word hierdeur mislei.
Gelowiges het nodig om in Christus te groei en volwasse te word en hulle lewens te laat vorm deur Hom. Dit is elke gelowige se opdrag: groei in Hom. Dit is ook die bediening van die leiers in die kerk (Efesiërs 4:11-12). Om dwaling uit te wys, is maar een skakel in die ketting, maar as dit nie gepaardgaan met die doel om te lei tot volheid in Christus nie, dan is dit eensydig en potensieel ‘n mislukking. Die skokfaktor sonder die groeifaktor is leeg. Daar moet altyd balans wees tussen teregwysing en lering. Teregwysing is die uitwys van ‘n verkeerde wêreldbeskouing gemeet aan die ware terwyl lering die onderrig in die ware is.