Interessante vraag in die tyd waarin ons onsself bevind. ‘n Tyd waar alles gerelativeer word tot die punt waar onsekerheid die enigste ding is waarvan ons kan seker wees. Inteendeel, dit is die roem van die postmodernisme dat twyfel en onsekerheid eintlik ‘n deug is.

In debatte oor die plek van die Bybel in die kerk kom hierdie vraag elke nou en dan op. Gewoonlik gaan dit ook gepaard met die vraag (moontlik aanklag) waarom die tyd wat aan die soeke na “waarheid” gespandeer word nie eerder gebruik moet om armoede, swaarkry, ensovoorts te verlig nie. Dit lyk asof daar ‘n sterk neiging onder gelowiges is om die “dogma” te verruil vir die “praktyk”.

Die aanklag teen die hoofstroom kerke en sogenaamde “fundamentaliste” vanuit hierdie meer pragmatiese denkstrominge is dat die klem te veel op die woord, die letter, die dogma val en die spirituele ervarings van christene en die nood van die wêreld verwaarloos word. Dit is sekerlik die gevaar as daar te veel klem gelê word op die die dogmatiese sonder ‘n soeke na die grondvat daarvan in die gelowige se lewe. Die probleem is egter dat ‘n pragmatiese, postmoderne oorhel na die mens se ervaringe op baie dun ys beweeg en baie vinnig verval in ‘n mensgemaakte en mensgedrewe geloof wat los staan van enige diepgewortelde teologiese onderbou.

Daarom is die geraas oor die noodsaaklikheid van ‘n verstaan van waarheid nie onnodig nie. Inteendeel, dit is die plig van die leiers van die kerk om die gelowiges konstant dieper te wortel in die waarheid. Kyk na wat bid Jesus in Johannes 17:17:

“Heilig hulle in u waarheid;”

 

Vir Jesus is daar nie twyfel oor die effek van die waarheid van God in die lewens van sy dissipels nie. Jesus self kwalifiseer in hierdie selfde gebed net hierna wat is die waarheid waarvan Hy bid:

“u woord is die waarheid.”

 

Was Jesus dus hier bid is dat die Vader die gelowige se lewe sal afsonder deur sy eie Woord te gebruik om dit te doen. As ons dus sê die waarheid maak nie saak nie, en dit reduseer tot ‘n randsaak, maak dit ‘n standpunt dat die Woord van God nie werklik die nodige gesag dra nie. Dit is belangrik om te sien dat Jesus waarheid ook verder verdiep deur na Homself te verwys as die Waarheid (Johannes 14:6). Ons het nog altyd bely dat die skepping God se algemene openbaring aan die mens is; die Woord is sy besondere wyse van openbaring en sy Seun is sy spesifieke openbaring. Kyk maar Hebreërs 1:1:

“Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.”

 

Die waarheid is volgens die Bybel self nie ‘n wollerige, mistieke, mensgevormde, filosofiese konsep nie. Dit is God se Woord soos neergepen deur mense onder Sy inspirasie maar ook soos beliggaam in Jesus Christus. Daarom moet ons gefokus wees daarop in ons kerke, onderskeie bedieninge en persoonlike lewens. Eers dan maak die praktyk sin. Dan kan die kerk haar roeping sigbaar maak omdat die waarheid dan duidelik word in die lewe binne die liggaam van Christus. Hoe kan jy die waarheid vir die wêreld leef as jy nie vasgemaak is aan die waarheid van God, of dan in die woorde van Christus self, geheilig is in die waarheid nie? Dit is ‘n saak van onmoontlikheid. Is die kerk immers nie dié instrument wat God gebruik om bekering en vergifnis van sonde na ‘n verlore wêreld te neem nie? Hoe sal dit kan gebeur as hierdie waarheid waarvan God se Woord praat nie sentraal staan nie?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *