Miskien is daar iemand wat sommer met die intrapslag sal wonder of ek ‘n alien is dat ek nie weet wat ‘n Valse Profeet is nie? Dis dan tog iemand wat die waarheid verdraai! Wel, ek wil eintlik net bietjie dink oor ons gebruik van hierdie uitdrukking. Ons sê maklik iemand is ‘n valse profeet as ons sy boodskap ontleed en ontdek dit is so skeef soos ‘n sewe rand noot. Maar, het jy al gedink wat die implikasie is van wat jy sê? Ek bedoel nou nie na die kant van die “valse profeet” nie, maar na jouself. Dis reg, ek besef dat wanneer ek van iemand anders praat, en dan sê daardie persoon is ‘n “valse profeet”, dan sê ek baie van dit wat ek self van oortuig is en kan dit selfs verkeerd wees!

Dink aan hierdie uitdrukking: Valse Profeet. Dit is ‘n samestelling van twee komponente, naamlik dié van waarheid teenoor leuen en dié van profesie. Die samestelling impliseer dus dat daar is ‘n stel inligting wat jy as waar beskou waarteen jy die inligting wat iemand anders verkondig meet en aan die hand van ooreenstemming met jou stel inligting maak jy die oordeel tussen waar of vals. Hierdie is nie moeilik om te begryp nie. Behalwe natuurlik as jy nie glo dat daar iets soos objektiewe waarheid is nie of dan dat is as daar wel so iets is, dit nie geken kan word nie, soos by die Ontluikende Kerk die geval is. Dan is dit baie moeilik om iemand as vals te verklaar, want so so jy natuurlik moet erken daar is ‘n waarhied waarteen gemeet kan word.

Die tweede deel is bietjie meer problematies, met ander woorde “profeet” en dis hier waar jy jouself redelik in ‘n tammeletjie kan kry indien jy nie kwalifiseer wat jy bedoel nie. Tegnies beteken profesie kennis in die hede van iets wat nog in die toekoms gaan gebeur. Dit was dan ook die funksie van die profete in die Skrif, naamlik die openbaring van die verlossingsplan van God soos dit in die toekoms sou ontvou.

Dit is dan juis hier waar die aanduiding van iemand as ‘n vals profeet problematies raak, want in hierdie tegniese sin van die woord impliseer jy dus dat daar iets kan wees soos ‘n ware profeet, met ander woorde iemand wat inligting het oor iets van God se verlossingsplan wat nog in die toekoms moet gebeur. Trek dit so bietjie verder deur in sy konsekwensies, dan sit jy met ‘n redelike teologiese probleem oor die openbaring van God. 

Die Bybel vertel ons dat God vantevore deur profete en op allerhande wyses met die mens gepraat het, maar dat Jesus sy laaste Woord was, met ander woorde in essensie is die rol van profesie opgehef (Hebreërs 1:1-2). Dit is ook die belydenis van die Kerk gewees toe hulle die boeke van die Bybel vasgemaak het, naamlik dat God se openbaring soos vervat in die 66 boeke van die Bybel die finale en volledige openbaring van God aangaande sy verlossingswerk is. Daar sou dus hiervolgens geen nodigheid meer wees vir verdere profetiese uitsprake deur profete nie, want dit sou die Skrif as onvoldoende en onvolledig maak.

Sou jy dus die uitdrukking “valse profeet” moet ontleed, laat jy ruimte vir iets soos ‘n “ware profeet”, en daarmee die moontlikheid dat God deur iemand ekstra openbaring kan gee wat by wyse van profetiese woord verkondig word. Iemand sou dus potesieël kon sê “So spreek die Here” en iets daaraan haak wat dan nou as ekstra openbaring sou moes geld, want God kan nooit met minder outoriteit praat as op ander geleenthede nie. 

Ek wil voorhou dat daar nie so iets kan wees nie aangesien God se algemene openbaring (die skepping) en sy besondere openbaring (die Woord) wat handel oor sy spesifieke openbaring (sy Seun) afgehandel is. Geen nuwe kennis kan dus meer deurgegee word nie. Dit sou mistieke, esoteriese kennis wees wat nie in God sy oorsprong het nie. 

Waarom dan al die verwysings in die Skrif na “valse profete”? Wel, terwyl die skrywers geskrywe het, was die openbaring nog nie afgehandel nie en dus was die werk van profeet nog in plek. Met die afhandeling van die openbaring (en dit essensieël met die Openbaring aan die Apostel Johannes), is dit afgesluit en gefinaliseer. 

Kan ons dus nog praat van ‘n “valse profeet”? Wel ek sou reken net as jy dan kwalifiseer wat jy as profesie beskou. Myns insiens mag dit nie meer of minder wees as die volledig geopenbaarde Woord van God nie. Enige so iets sou per definisie as vals beskou moet word. Die Skrif is dus die waarheidstel inligting waarteen ons meet en weeg. As jy met profeet bedoel iemand wat die Skrif uitlê en toepassing verkondig, dan is dit eerder leeraar as profeet. Daarom sou dit dus veiliger wees om van valse leraars, dwaalleraars, ens. te praat as van “valse profeet”. Waar dit gedoen word, mag dit slegs wees in die sin van ‘n valse leraar.

Dalk is hierdie so bietjie mors met woorde, maar ek kom agter dat mense hulself probeer uitdruk en dan – met alle goeie intensies wat hulle het – deur die dwaalleraars aangevat word en moeilik herstel omdat hulle hulself verkeerd verwoord het. Terloops, die aanhangers van die Ontluikende Kerk is meesters in die tegniek van Dekonstruksie, wat taal en betekenis neem en dit afbreek om nywe betekenis te skep. Ons moet versigtig wees om deur die woorde wat ons gebruik, ons teologies kwesbaar te maak. 
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *