Die kerk van ons Here Jesus sal staande bly en nie oorweldig word nie – dit ten spyte van al die aanvegtinge van dwaling en valse leraars wat hulself inwurm en die Woord van God verdraai. Die rede hoekom ek hierdie sterk oortuiging is, is omdat ek in die Woord lees hoe betrokke Christus self by sy kerk is.

Die apostel Johannes is op die eiland Patmos en die Gees gee vir hom ‘n geweldige visioen van Christus (Openbaring 1:9-20). Ons moet onthou dat die kerk in Klein-Asië onder geweldige druk deurgegaan het. Polities, kultureel, godsdienstig, moreel was die gelowiges onder druk om te swig voor die “begeerlikhede” van hulle wêreld. Midde in daardie situasie verskyn Christus, soos wat Hy tans in sy verheerlikte status in die hemele is, aan Johannes en gee hom opdrag om te skryf wat hy sien. Dit is belangrik om te sien dat wat hy sien, begin by ‘n visioen van Christus. Verder is dit insiggewend om te besef dat hy Christus sien “tussen sewe goue kandelare” en in sy regterhand hou Hy sewe sterre. Ons lees die kandelare is die sewe gemeentes – verteenwoordigend van die totale kerk van Christus en die sewe sterre is die leiers van die kerk. Wat Johannes dus sien daar op Patmos, is die verheerlikte Christus besig met sy kerk, sy liggaam. Ons Here is betrokke in sy kerk.

Die kerk is God se hart

Ons mag nie oor die kerk dink in menslike terme nie, bloot vanweë die feit dat die kerk nie ‘n menslike uitvindsel is nie. Die kerk is duidelik inherent deel van God Drie-enig se verlossingsplan in hierdie wêreld. Die Skrif is hieroor klokhelder. Daarom, toe Jesus sy aardse bediening begin, het Hy begin om sy apostels te versamel, want hulle sou later die fondament lê vir die voortbestaan van die kerk. Behalwe vir sy doel om aan die kruis te sterf, was die vorming van die kerk vir Hom belangrik, want na sy hemelvaart sou hierdie klein groepie groei tot ‘n magtige beweging wat nie gestuit kan word nie. Die beeld van goud wat ons in Openbaring lees gee die idee van die kosbaarheid daarvan. Dink daaraan wat die prys vir Christus was om sy kerk vry te koop – sy lewe. Dit is so dat individue gered word en vrygemaak word en vergifnis ontvang en wandel met Christus, maar elkeen van hulle word deel van die kerk van Christus. Daarom is die kerk niks minder nie as die vergadering van verlostes, wat besef hoeveel genade hulle ontvang het en hoe groot verantwoordelikheid op hulle skouers rus.

Die kerk is onder die heerskappy van Christus

Dit sien ons in hierdie beeld in Openbaring 1. Hy beweeg tussen die kandelare en Hy hou die leiers in sy hand. Hy stel die reëls vir effektief kerk wees in die samelewing. Efesiërs 1 sê Hy is as Hoof gegee oor die kerk, in wie sy volheid woon:

En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. (Efesiërs 1:22-23)

Hy is die Hoof van sy kerk en daar voer Hy die heerskappy. Hierdie heerskappy voer Hy dan ook deur sy Woord en Gees en deur gehoorsame leiers daar te stel wat aan Hom onderworpe is en ‘n hart het wat klop vir die kerk soos wat Christus se hart daarvoor klop. Kolossense 1:18 bevestig dit:

En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Daar is geen ander hoof nie. Die leiers is verantwoordelike herders en leraars wat hulle geestesoog op Hom rig vir leiding.

Die kerk is geanker op ‘n standvastige belydenis

Mattheus 16:18 bly deurslaggewend in die bestaansreg van die kerk:

… op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Watter rots? Die belydenis wat Petrus so pas oor Christus gemaak het:

U is die Christus, die Seun van die lewende God. (Mattheus 16:16)

Daar is geen standvastiger rots as hierdie nie, want wat dit in der waarheid sê is dat die kerk is geanker in die persoon, bediening en Godheid van Jesus Christus. Hy is die hoeksteen waarop die apostels verder die fondament sou bou. En hier het ons die kragtige versekering dat die poorte van die doderyk die kerk nie sal kan oorweldig nie.

As gevolg van hierdie waarhede in die Woord, en omdat ek daarvan verseker is dat die Here Jesus die getroue en waaragtige getuie is, daarom is ek nie bekommerd oor die voortbestaan van die kerk nie. Dit is sy eiendom, sy liggaam, sy bruid. Trouens, Openbaring wys vir ons die plek van sy bruid in die toekoms.

Wat van dwaling?

Waarom moet ons dan nog optree teen dwaling? Ek dink ons moet as volg hieroor dink. Ons beveg nie dwaling ter wille van die voortbestaan van die kerk nie. As dit ons uitgangspunt is, dan probeer ons die rol van Christus inneem. Hy alleen beweeg tussen die kandelare en Hy alleen hou die sterre in sy regterhand. Verder, indien dit ons benadering is, misken ons die soewereine heerskappy van Christus oor sy kerk waaroor Hy aangestel is. Verder maak ons die beloftes van Christus oor die behoud van sy kinders nutteloos en sinneloos en sonder betekenis. Daardeur onderwerp ons Christus aan die invloede wat die kerk tref en maak ons eintlik ‘n duidelike stelling dat Hy nie by magte is om sy kerk veilig te hou nie. Ons beveg dus nie dwaling om die voortbestaan van die kerk te verseker nie. Die kerk was sedert sy ontstaan die teiken van dwaling en ons is nou al 2000 jaar later en steeds is die kerk daar, steeds besig om dwaling te beveg! Die feit dat die kerk na al die jare nog bestaan, is nie as gevolg van planne wat gemaak is om die kerk te laat voortbestaan nie. Dit is die vervulling van die beloftes van onder andere Mattheus 16:16-18 en Openbaring 1.

Dit gaan altyd oor die mense wat deur dwaling geraak word, en daarom klim ons met mag en mening in teen dwaling. Daar is mense by betrokke wat direk en indirek geraak word deur dwaling en dit is ter wille van hierdie mense dat ons ywerig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 1:3). Wie is hierdie mense?

Ten eerste is daar dié wat mislei. Hieroor is die Skrif duidelik. Hulle moet aan die lig gebring word sodat die res van die kerk kan weet wie hulle is en waarmee hulle besig is. Paulus het selfs so ver gegaan as om hulle aan die Satan oor te gee. Dus moet die tug hier toegepas word. Dit moet ook in gedagte gehou word dat selfs dwaalleraars hulle kan bekeer en gered kan word van hulle sondigheid. Daarom mag daar nooit ‘n gesindheid wees dat hulle “beyond redemption” is nie. Hulle dwalinge en donker praktyke moet in die lig van God se Woord geopenbaar word, maar nooit in op ‘n wyse wat die koninkryk vir hulle toesluit nie – so sou ‘n Paulus byvoorbeeld nooit in die koninkryk inkom nie. God alleen het die soewereine reg om die ewige lewe te gee of te weerhou.

Tweedens is daar dié wat mislei word. Judas kategoriseer hulle in twee groepe: dié wat twyfel en dié wat alreeds weggesink het daarin. Hierdie mense moet daaruit gehaal word, die eerste groep saggies dog ferm, die tweede groep moet “uit die vuur geruk word” sonder om self deur die sonde besoedel te raak. Ons mag nie mense wat begin twyfel sonder meer afskryf en etiketteer nie. Judas sê ons moet hulle daar gaan uithaal. Ons moet die onsekerhede vervang met sekerhede; twyfel met geloof. Die wat al deel geraak het van die misleiding moet tereggewys word, hulle moet besef waarheen dwaling hulle neem. Die proses van Mattheus 18 rondom tug moet met hulle geloop word.

Derdens is daar dié wat getrou bly aan die Woord van God. Hulle moet verder versterk word in hulle geloof en hulle moet ondersteun word in hul getrouheid. Ons is so geneig om op die dwaling fronte die geveg te baklei, dat ons vergeet van hierdie groep getroue gelowiges wat bediening net so nodig het soos die ander.

Daar is ook dié wat buite die kerk staan en die stryd van ‘n afstand af beleef. Dit is hulle wat nog nie die verlossing gesmaak het wat daar in Christus alleen te vinde is nie. Hulle is nog vasgevang in hulle sonde en is van nature geneig om eerder die valsheid as die waarheid aan te hang. En tog is dit hulle wat die waarheid van die evangelie van vergifnis van sonde moet hoor by die kerk en as ons nie dwaling beveg nie, sal die ons onverantwoordelik wees en toelaat dat valsheid verkondig word.

Dan is daar die komende geslagte wat die waarheid verder moet neem en ons stryd verder sal voortsit. Vir hulle los ons ‘n fondament om van te werk, ‘n platform vanwaar hulle die waarheid self sal moet hanteer. Ons moeg ter wille van hulle nié slaplê teen valse lering nie. Ons generasie is waar ons is as gevolg van getroue kinders van God wat die waarheid bo die leuen gekies het en daarvoor gestry het met alles wat hulle in hulle gehad het.

Mag die ware kerk van vandag getrou bly aan die waarheid en leef vanuit die heerskappy van Christus en nie swoeg voor die leuens en misleiding van die dwaalleraars nie. Johannes het Hom gesien tussen die kandelare met die leiers in sy regterhand. Dit is waar Hy vandag nog is, besig om in sy kerk te werk om haar voor Hom te stel as rein en vlekkelose bruid. Die kerk van ons Here Jesus sal staande bly en nie oorweldig word nie!

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *